OUDTSHOORN NUUS - Twee mans van Oudtshoorn wat by die kroeg van die plaaslike rolbalklub ingebreek en hulle self aan drank en aartappelskyfies gehelp het, is Vrydag onderskeidelik 30 maande en twee jaar gevangenisstraf opgelê.
Isaac Pedro (39) met tien vorige veroordelings, en die 21-jarige Henrico Stuurman, het in hul pleitverduidelikings erken dat hulle die aand van 5 Oktober 2023 by die Oudtshoorn Rolbalkub ingebreek het.
Hulle is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal.
Landdros Vaughn Shone het Pedro tot 30 maande gevangenisstraf gevonnis omdat vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking op hom gehad het nie, en Stuurman tot twee jaar omdat hy slegs’n tweede keer met die gereg gebots het. Die hof het ook in ag geneem dat hulle reeds langer as twee maande in aanhouding was.
Thuba Nyamate het vir die staat en Sanelle Nel van die plaaslike regshulpraad vir die beskuldigdes verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’