CALITZDORP NUUS - Die huidige inperking het 'n traumatiese uitwerking op almal, maar veral op hardwerkende entrepreneurs wat nou deur wetgewing verbied word om 'n eerlike inkomste te verdien.
Een so 'n voorbeeld is Hendrik Tiemie van Calitzdorp. Hy is 'n bekende draadkunstenaar in die Suid-Kaap wat reeds vir 18 jaar sy gesin daarmee onderhou.
Tiemie wat gereeld by plekke soos die KKNK, Museum Art, die Winterfees en die Septemberfees uitgestal het, sit nou draadloos by die huis.
"Ek het vir 18 jaar lank met my wire art, darem 'n inkomste verdien. Ek het ook gereeld ander mense opgelei in die fyn, fyn kuns van draadwerk. Nou voel ek so nutteloos. My gesin kyk op na my vir kos, maar draad was al wat ek kon gebruik om geld te maak. Maar ek mag nou nie meer uitstal nie."
Buiten dat hy nie toegelaat word om sy erf te verlaat om by sy ateljee te gaan werk nie, het die toeriste wat 'n goeie bron van inkomste was, ook opgedroog.
"Nou kan jy mos dink hoe dit gaan. Hier staan van my klaargemaakte items waarvoor ek nie 'n sent mag verdien nie, en hoe lank na lockdown sal die mark weer kop optel?" vra Tiemie.
Ander eenmansake soos haarsalonne sukkel ook nou, "Mense dra al afros so lank is die mans se hare," het 'n inwoner gespot.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'