KANNALAND NUUS - "Ek het nie op die munisipale raad gekom net deur middel van 'n proporsionele stem nie. Ek het my wyk gewen, die mense moet weet ek het die meeste stemme van al die ander raadslede in Kannaland gekry. Dit beteken ek hardloop na die Bybel toe wat sê, "gee die arbeider wat hom toekom".
So het Jeffrey Donson in sy oorwinnings-toespraak gesê nadat hy verlede Vrydag tydens 'n vreedsame raadsvergadering in Calitzdorp sonder enige teenkanting tot burgemeester verkies is.
Peter-George Rooi (33) van Kannaland Independent Party (KIP) is tot speaker van die raad verkies. Sy aanstelling maak Rooi een van die jongste speakers in die Wes-Kaap.
Donson se herrysing in die burgemeester-stoel kom nadat hy tesame met sy medepartylede, Werner Meshoa (onderburgemeester) en Hyron Ruiters (verteenwoordiger van distriksraad) in Januarie vanjaar via drie mosies deur die DA, ANC en KIP (met Rodge Albertus toe as raadslid) die trekpas gegee is.
Albertus, het toe as speaker, in Julie vanjaar dié Icosa-drie geskors omdat hulle glo hulself aan verkwisting van openbare fondse skuldig gemaak het.
Die Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering, Anton Bredell, het egter in September die skorsing van dié drie ongeldig verklaar. Albertus is intussen as KIP-raadslid geskors met Peter-George Rooi wat verlede week amptelik deur die Onafhanklike Verkiesings Kommissie (OVK) as raadslid erken is in Albertus se plek.
Verloop van raadsvergadering
In die afwesigheid van die voormalige munisipale bestuurder, Ian Avontuur, het Hendrik Barnard, as voorsittende beampte opgetree. Raadslid Aletta Steenkamp (DA) het verskoning ingedien aangesien sy siek was. Geen verskoning is vir burgemeester Nicky Valentyn (ANC) se afwesigheid ontvang nie. Toe Donson die saal binnekom het die lede van die publiek gedreunsang en was dit duidelik dat hy 'n gewilde keuse sou wees om die burgemeestersketting te dra.
Ruiters het op die verwydering van Avontuur as munisipale bestuurder aangedring en genoem dat Avontuur munisipale fondse op hofsake verkwis waarvoor hy geen magtiging het nie.
Meshoa het op sy beurt daarop gewys dat Avontuur se kontrak reeds verval het. Keith Jordaan, voormalige hoof finansiële beampte van George-munisipaliteit, is as waarnemende munisipale bestuurder aangestel.
Die voormalige munisipale bestuurder van Kannaland, Morné Hoogbaardt, is as direkteur van infrastruktuur aangestel. Ruiters en Meshoa is ook heraangestel in hul oorspronklike poste van verteenwoordiger op die distriksraad (Ruiters) en onderburgemeester (Meshoa) onderskeidelik.
Dit was ook die einste Ruiters wat 'n mosie van wantroue in Valentyn ingestel het om die tafel te dek vir Donson se herrysing tot die stoel.
Verkragtingsaak van 18 jaar gelede-omstredenheid
Burgemeester Donson het in sy aanvaar-dingstoespraak gesê dat hy verwag dat die pers weer na die verkragtingsaak van 18 jaar gelede sal verwys.
"Ek was nooit skuldig bevind aan verkragting nie en het nooit tronkstraf vir verkragting uitgedien nie, maar mense kan nie 'n onderhoud voer sonder om daarna te verwys nie. Hoe dit ook al sy, ek is verbind is tot dienslewering van hoogstaande gehalte," het Donson onder luide toejuiging gesê.
Donson het ook in sy toespraak bygevoeg dat dit tyd geword het dat mense buite Kannaland die inwoners van Kannaland die kans gun om hulself te bestuur en die manier waarop hulle dit doen, is by die stembus.
Peter-George Rooi, nuwe speaker neem die eed.
Keith Jordaan het Ian Avontuur as waarnemende munisipale bestuurder vervang.
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Karoo nuus'