KAROO NUUS - Slegs 'n maand nadat Dawid Kamfer, Icosa se provinsiale voorsitter vir Kannaland-burgemeester, Jeffrey Donson en sy seun, Vlancio Donson (Oudtshoorn-onderburgemeester), geskors het en dit intussen deur hul nasionale uitvoerende komitee (NUK) ongeldig verklaar is, is hulle verlede week weereens deur Kamfer geskors.
Dié keer omdat hulle betrokke is by die stigting van 'n alternatiewe party genaamd ATAP (All Things Are Possible).
Kamfer voer aan dat die stigting van hierdie party teenstrydig is met Icosa se konstitusie wat stipuleer dat 'n lid van 'n party wat werwing doen of betrokke is by die stigting van 'n party, outomaties sy lidmaatskap beëindig.
Kamfer het ook 'n brief aan Oudtshoorn se munisipale bestuurder gerig waarin hy aandring dat Donson van sy onderburgemeesterposisie moet afstaan.
Luidens 'n verklaring van die Oudtshoorn munisipale bestuurder, Walter Hendricks, erken hy ontvangs van Kamfer se brief, maar is daar bepaalde beperkings ten opsigte van die optrede van die munisipaliteit in hierdie aangeleentheid.
Volgens dié verklaring van Hendricks moet 'n hofbevel verkry word met betrekking tot die leierskap van die politieke party voordat enige verdere stappe geneem kan word.
Volgens Vlancio Donson, ook lid van Icosa se NUK, is Kamfer reeds vir maande al bewus van die verwikkelinge van ATAP, maar bring hy dit nou aan die lig omdat hy tans geen politieke huis het nie, en ook om hom en sy pa, wat ook die president van Icosa is, in 'n swak lig te stel.
"Niks van ATAP is finaal nie, maar dit is al voorheen bespreek met die NUK, so hierdie is nie nuwe inligting wat vreemd is nie. Inteendeel, by die laaste NUK-vergadering het ek dubbele lidmaatskap verkry, juis omdat ons alle opsies oorweeg. ATAP is 'n sambreelparty wat ons slegs gaan gebruik as 'n nasionale voertuig sodat kleiner partye onder hierdie vaandel, nasionaal kan meeding. Hierdie sogenaamde skorsings is alles rookblasery omdat hy wat Kamfer is, uit Icosa geskors is en in die proses ook sy raadslidstoel in Mosselbaai kwyt is.
"Op plaaslike vlak sal al die partye wat deel is van ATAP, steeds sy eie identiteit behou. Die doel van ATAP is dus sodat ons kleiner partye, gesamentlik 'n groter stem nasionaal kan hê. Maar soos ek sê, niks is nog finaal besluit nie, maar sekere administrasie prosesse van ATAP is reeds afgehandel, sodat wanneer ons wel die groen lig kry, dit all systems go is. Dit is baie jammer dat Kamfer tot op hierdie vlak daal omdat hy lank reeds deel vorm van Icosa se strukture, maar dis hoe ons hom ken."
By navrae het Kamfer voet by stuk gehou dat hy steeds lid is van Icosa en voortgaan met sy werksaamhede as deeltydse raadslid in Mosselbaai se munisipaliteit.
"Die NUK bestaan sedert 2022 glad nie meer nie, dus is my skorsing ook nie geldig nie. Dit is ook 'n infame leuen dat ek bewus is van ATAP se stigting. Ek het eers onlangs uitgevind waarmee Donson-hulle besig is. Die grondwet is duidelik; geen lid van Icosa mag by 'n nuwe party aansluit nie en indien wel, word sy lidmaatskap summier opgeskort. Vir wat ook al vrome redes die doel van ATAP gestig is; die feit bly staan, dit bly steeds teenstrydig met die grondwet," het Kamfer beklemtoon.
By navraag het Mosselbaai-munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, Carel Venter, bevestig dat die OVK (Onafhanklike Verkiesingskommissie) in kennis gestel is van 'n proporsionele vakature van Icosa en word daar tans op 'n antwoord van die OVK gewag.
Dawid Kamfer en Jeffrey Donson in gelukkiger tye. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’