CALITSDORP NUUS - Die bekendstelling van die Klein Karoo Geslagsgeweld-ambassadeurs is Vrydag 29 Augustus amptelik in Calitzdorp deur die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Jaco Londt, bekendgestel.
Die departement het Vrouemaand afgesluit deur ondersteuningsdienste vir oorlewendes van mishandeling en gesinsgeweld verder te versterk.
Die geleentheid het 'n bewusmakingsoptog in die strate van Calitzdorp ingesluit, waar inligting oor ondersteuningsdienste vir geslagsgebaseerde geweld (GGG) verskaf is.
Sewentien inwoners van Oudtshoorn, Ladismith, Calitzdorp, Dysselsdorp en Zoar het vrywillig ingestem om die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) te ondersteun deur inligting te verskaf oor ondersteuningsdienste vir oorlewendes van mishandeling en gesinsgeweld, en om bewustheid in hul gemeenskappe te bevorder.
Hulle sal ook gevalle van gesinsgeweld na die SAPD en plaaslike maatskaplike kantore verwys. Sommige ambassadeurs sal ook vrywillig diens doen by die naaste polisiekantoor se slagoffervriendelike kamer.
Geslagsgebaseerde geweld bly een van die grootste uitdagings vir vroue in Suid-Afrika. Die Wes-Kaapse regering bly toegewyd om nie net die onderliggende oorsake daarvan aan te pak nie, maar ook om diegene wat daardeur geraak word, te ondersteun. Londt het beklemtoon dat vroue en kinders nooit in vrees moet leef nie.
GGG-ambassadeur Jo-Elzette Willemse van Dysselsdorp het gesê: "Ek wil mense help, maar ek het nooit geweet waarheen om te gaan of hoe om dit te doen nie.
Daarom het ek 'n GGG-ambassadeur geword. Ek glo hierdie program sal help om dinge in my dorp te verbeter, en dat ons baie mense in die gemeenskap sal kan bystaan."
"Hierdie twee inisiatiewe is 'n antwoord op die pleidooie van gemeenskappe in onderskeidelik die Overberg en Klein-Karoo vir meer ondersteuning aan GGG-oorlewendes. Die Wes-Kaapse regering is 'n regering wat luister, wat omgee en bowenal oplossings in werking stel wat alle rolspelers betrek.
"Dit is te danke aan vennootskappe met munisipaliteite, regeringsdepartemente, nie-regeringsorganisasies en inwoners dat ons 'n impak kan maak ten opsigte van maatskaplike euwels soos geslagsgebaseerde geweld. Ons het ook besighede nodig om betrokke te raak en om 'n verskil te maak wat sal lei tot die herstel of beskerming van die waardigheid en veiligheid van kwesbare inwoners en uiteindelik, om gemeenskappe veiliger te maak," het Londt gesê.
Vir meer inligting oor dienste wat die departement aan GGG-slagoffers bied, skakel ons gratis nommer by 0800 220 250 of stuur 'n e-pos aan SD.CustomerCare@westerncape.gov.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’