TUINROETE | KAROO NUUS - 'n Inwoner van Oudtshoorn was die gelukkige wenner van 'n splinternuwe Suzuki Swift by die Garden Route Casino se Triple CAR Cashout-kompetisie.
Dié gelukkie het mooi saam met Pheobe Marx se verjaardag geval.
Ofskoon die trekking reeds op 30 September plaasgevind het, het sy op 6 Oktober, haar verjaardag, met haar nuwe ryding by die casino weggery ná al die papierwerk afgehandel is.
Marx kon haar geluk nie glo nie. Sy was met die trekking by een van die casino se masjiene besig terwyl die nommer uitgelees is. Haar kaart was toe nog in die masjien. "Iets het vir my gesê ek moet my kaart uithaal, want sê nou hulle roep my kaartjie." Toe sy net die kaart uithaal, lees die aankondiger die beginnommers van haar kaart en sy dink: "Sjoe, maar hy lees dan nou wat ek sien!"
"Toe hy so lank na die kaart kyk, vir my het dit soos 'n ewigheid gevoel, toe sê hy ek is 'n finalis. My bene het amper onder my ingegee."
Met die tweede finale trekking het sy haar gelukkige nommers gevolg, en daarvolgens 'n tas op die verhoog gekies, en siedaar, sy was die wenner!
Sy het haar eie motor sowat 5 jaar gelede verkoop om haar dogter te help om na Nieu-Seeland emigreer. Marx het hier in Suid-Afrika met haar dogter se voertuig gery wat nog op huurkoop was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’