OUDTSHOORN NUUS - Tydens die Eden-sportraad se jaarvergadering op Donderdag 25 Julie in George, was dit nie net 'n geleentheid om terug te kyk op die prestasies van die afgelope jaar nie, maar ook 'n geleentheid om die toekoms van sport in die streek te bespreek en te versterk.
Die sportraad beheer 47 sportfederasies en vier munisipale sportrade.
Dit is ook tydens hierdie geleentheid waar hulle afskeid geneem het van Dirk van der Westhuizen, distriksbestuurder van die departement van sport en kultuursake, wat na 35 jaar aftree.
Volgens Van der Westhuizen, wat reeds sedert 1993 in Oudtshoorn woon, is sy loopbaan in die departement nou verby en maak hy ook klaar as lid van Eden-sportraad.
"Mens moet mos op 65 aftree. Ek maak amptelik aan die einde van Augustus klaar. Nou moet ek maar sien wat ek gaan doen," skerts hy.
Volgens hom is hy steeds by ovaalbaan-resies betrokke. "Sover bly ek aan by stockcars. Dit hou my darem besig."
Met dié geleentheid het die voorsitter, Desmond Speelman, die sakegemeenskap en munisipale rade bedank vir hul voortdurende ondersteuning van sport in die streek. Hy het hulle aangemoedig om voort te gaan met hul bydraes tot die bevordering van sport en die ondersteuning van sportlui.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’