OUDTSHOORN NUUS - Vier vroue van Oudtshoorn en vier vroue van die Verenigde Koninkryk het vroeër vanjaar 'n virtuele reis onderneem met 'n reeks stimulerende werksessies en gesprekke waarin hulle geluister, gedeel en uit mekaar se verhale geleer het. Uit hierdie sessies het 'n digbundel, Inherited Resilience, ontstaan.
Die projek is moontlik gemaak deur die British Council's Developing Inclusive and Creative Economies Programme (DICE). SICK!-fees, KKNK, Young Identity en Empatheatre.
"Die doel van hierdie splinternuwe aanlyn projek is om 'n unieke geleentheid vir jong vroue van Oudtshoorn te skep om op 'n betekenisvolle wyse kontak met eendersdenkende opkomende sterre en leiers in die Verenigde Koninkryk te maak. Deur dié opwindende onderneming het hulle belangrike kwessies en invloede in hul onderskeie gemeenskappe ondersoek, eerlike gesprekke oor die lewe gevoer, idees ondersoek, denke gestimuleer en met die wêreld verbind," verduidelik Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Daar was nege deelnemers aan die projek. Glenisha Tarentaal, Shandré Harris, Siyasanga Building en Tiffany Saterdaght is van Oudtshoorn. Die deelnemers in die Verenigde Koninkryk was Joan Turner, Olive Oragui, P.A. Bitez en Faidat Ope.
"Ek het uit hierdie ervaring geleer om 'n baie beter skrywer te wees," sê Saterdaght.
Tarentaal beaam dit en sê: "Om te skryf wat in jou binneste is en nie bang te wees nie, en om alles daar te stel en 'n naam vir jouself te maak, was vir my waardevol." Harris sê hierdie projek het haar meer selfvertroue gegee en Building vertel dat sy dankbaar is om deel te wees van hierdie projek en met ander vroue stories te deel.
Aanlyn sessies is in April en Mei aangebied, gefasiliteer deur Tshego Khutsoane (SA) en Shirley en Nicole May (VK)
Die digbundel, Inherited Resilience, met werke wat deur deelnemers geskryf is, is sedert 9 Augustus op kknk.co.za beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'