OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit ly groot skade as gevolg van booswigte wat die laaste tyd watermeters by huise steel.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig oor diefstalle wat in Oudtshoorn-Noord en Wesbank plaasgevind het.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, blyk dit wel of dit 'n tendens word.
"Dit gebeur al meer. Armoede veroorsaak dat mense steel. Die meters word gesteel en verkoop vir die metaal. Die ander probleem waarmee ons sit is die vandalisme aan die meters. Dit is nie net 'n probleem in die dorp nie, maar ook in die landelike gebiede op die Klein-Karoo-skema."
Volgens haar is daar die afgelope tyd bykans 40 meters gesteel.
Mle sê watermeters moet eintlik agter mense se heinings wees.
Oudtshoorn Courant het wel verlede week berig dat daar twee huise in Oudtshoorn-Noord was waar die palissadeheinings oopgebreek is om by die watermeters uit te kom.
"Dit is 'n reuseprobleem vir die munisipaliteit omdat dit ons eiendom is en ons die kostes van die herstel en vervanging moet dra. Dit is geld wat op 'n beter manier in Oudtshoorn spandeer kon word."
Mle sê die polisie ondersoek verskeie sake van watermeters wat gesteel word en inwoners word versoek om die inligting dadelik vir die polisie te gee dat die mense wat hiervoor verantwoordelik is gevang kan word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'