OUDTSHOORN NUUS - Henk Serfontein se Die stomme aarde-uitstalling het Maandagaand, 31 Maart, amptelik geopen vir die jaarlikse KKNK met 250 gaste wat die geleentheid bygewoon het.
Serfontein is een van die kunstenaars wat ook dié week vereer word vir sy bydrae tot kuns.
Die stomme aarde bestaan uit 'n reeks omgewingsgerigte houtskooltekeninge, waarin Serfontein in mikroskopiese detail te werk gaan en aansluit by die groengesprek. Sy uitstalling vorm ook deel van die Diepe grond visuele kunste uitstalling tydens die fees.
'n Reeks monumentale tekeninge van ontwortelde plante wat grysbekkie, volstruisnek en sterretjieboom insluit, verbreek hul stiltes uit primordiale, soos voorvaders met grondmonde. Die plantportrette in hul grootsheid en skoonheid is nie net wetenskaplik beskrywend nie, maar tree ook in gesprek met die ekologies-gesinde poësie van Wilma Stockenström. Die kunswerke poog om, soortgelyk aan die poësie van
Stockenström 'n ontvanklikheid te toon vir die optekening van die kodes van die Die stomme aarde. In die kunswerke is daar 'n gevoeligheid vir die boodskappe verskuil in plant, klip en grond.
In die tweede reeks tekeninge, met die titel Klipspraak, word versreëls uit die klipgedigte van Stockenström geprojekteer op klip afkomstig uit Kruidfontein.
Die klipbeelde kan gelees word as grafskrifte, wat 'n sekere droefheid oor die stand van die natuur in die konteks van die klimaatskrisis oordra.
Die uitstalling kan gratis besigtig word by St Judes Anglikaanse kerksaal en die Prince Vintcent-gebou.
Foto galery: Diepe grond visuele kunste uitstalling tref diep
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’