OUDTSHOORN NUUS - Verlede Donderdag 11 Oktober, presies 60 jaar gelede het die eerste motorkar in Die Hel (Gamkaskloof) aangekom en hy is nie soontoe gery nie. Vier jong mans van Tulbagh het die Morris 8-voertuig op 11 Oktober 1958 by Gamkaskloof ingedra.
Vroeg in daardie jaar het drie jong mans, die tweeling Ben en Dirk van Zyl en 'n vriend Isak Burger, Gamkaskloof te voet besoek, want in daardie stadium was daar nie 'n pad na die afgesonderde gemeenskap nie. Die enigste manier wat die inwoners gehad het om Prins Albert of Calitzdorp toe te gaan was om voet te slaan met bergpaadjies langs.
Tydens hul besoek het hulle uitgevind dat Martiens Snyman wat met sy gesin op die oewer van die Gamkarivier gewoon het, tydens die Tweede Wêreldoorlog die rang van sersant gehad het en vragmotors vir die weermag bestuur het. Die drie het toe belowe om vir Snyman 'n voertuig te bring, maar dit was makliker gesê as gedaan, want die eerste pad na Die Hel is eers op 9 Augustus 1962 voltooi.
Op 11 Oktober van dieselfde jaar het hulle die motortjie, wat hulle vir 15 pond in die Paarl van Tielman Roos gekoop het, Die Hel ingedra. Die enjin was nog in goeie toestand, maar toe al was die bakwerk 'n "bietjie broos," sê Pieter Joubert, op wie se werf die geroeste wrak nog staan.
Die Van Zyl-broers het op die plaas Skilpadrug in die Tulbagh-distrik gewoon, en daar het hulle die meeste van die oortollige gewig van die motor verwyder. Op 10 Oktober is hulle met die Morris op 'n vragmotor weg uit Tulbagh, en dié nag het hulle op die vragmotor net duskant die Bo-Poort uitgekamp.
Hulle het vooraf reëlings getref met die Nel-familie van De Krans in Calitzdorp om die Klowers te laat weet hulle moet kom help dra, dat hulle 'n paar sterk manne en 'n paar donkies moet saambring en hulle aan die bopunt van Bo-Poort moet ontmoet.
Een van die min foto's wat die storie van die Morris se intog vertel. Foto op die webwerf: Gamkaskloof (Die Hel) toegewy aan Josef Marais (Gamkasklover).
Vroegoggend op 11 Oktober het hulle besef die Morris kort olie, en hulle is met 'n spaarvoertuig oor Boschluyskloof na die Nefdts se winkel in Seweweekspoort, waar hulle 'n paar blikkies olie kon koop.
Toe hulle terugkom by die plek waar hulle die Morris gelos het, is die voertuig skoonveld.
Hulle sny toe spoor en kry die motortjie waar die inwoners van Die Hel dit al deur die rivier begin sleep het.
Die geselskap het bestaan uit 10 mans, naamlik die Van Zyl-broers, hulle vriende Isak Burger en Andries van den Berg en die Klowers, Martiens Snyman en sy seun Martin, Piet Cordier, Martiens Mostert, Hans (Apols) Mostert en Isac Nefdt, en die vier donkies Kaptein, Maklik, Dinamite en Michael.
Die geroeste wrak van die karretjie is nog in Pieter Joubert se besit. Dit staan by Die Hel Kiosk, 'n kuierplek in die hartjie van Die Hel. Foto's: Tisha Steyn
Dit het die span heeldag geneem om die 9 myl (15 km) af te lê. Hulle het maar gesukkel deur die klipskeure en oor rotsblokke en teen die opdraandes van Waaisand uit, totdat hulle uiteindelik na sewe die aand op Snyman se plaas aangekom het. Sewe geweerskote is afgevuur om die eerste motortjie in Die Hel te verwelkom! Snyman, wat darem vragmotors tydens die vorige oorlog bestuur het, het sommer dadelik 'n "toetsrit" onderneem met sy vrou Sannie, dogter Anna en sy vrou se halfbroer, Piet Cordier aan boord.
Vandag staan die geroeste wrak van die motortjie steeds in Gamkaskloof, maar die verhaal van sy vreemde tog tot daar sal nog lank vertel word.
Besoek die webtuiste www.gamkaskloof.co.za om van die ou foto's te sien.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'