OUDTSHOORN NUUS - 'n Ouerpaar van Oudtshoorn glimlag van oor tot oor na al drie hul wonderwerkies uiteindelik by die huis is.
Cameron Josephs (24) het op 4 Desember in Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad aan haar en Quinton Ewerts se drieling-seuntjies geboorte gegee. Hulle het voortydig hul opwagting gemaak en is op slegs 34 weke deur middel van 'n beplande keiser verlos.
Al drie die babas het 'n goeie gewig by geboorte gehad - Quilin het 2 kg, Quiwin 1.4 kg en Quirin 1.6 kg geweeg. Quiwin en Quirin moes egter in Grootte Schuur se neonatale-eenheid agterbly na Josephs drie dae na die bevalling met Quilin ontslaan is en teruggekom het Oudtshoorn toe.
Josephs is kort en fyn gebou en mens sou nie kon glo dat drie babas binne-in haar pikante lyfie gegroei het nie.
Quilin, Quiwin en Quirin Ewerts. Foto: Liezl van Niekerk
"Ek sou maklik voltermyn kon dra as die spasie binne my nie so beperk was nie. Hulle het in drie aparte sakkies gelê. Die swangerskap het sonder komplikasies verloop en al drie seuns is gesond. Dit was net vreeslik ongemaklik. My maag het soos 'n waatlemoen voor my uitgestaan," vertel sy.
Sy vertel dat sy van die begin van haar swangerskap af vermoed het dat dit nie 'n gewone swangerskap is nie.
"Ek het vir my ma bly sê dit voel soos meer as een. Toe die dokter dit op 'n sonar bevestig het ek gedink hy maak 'n grap. Hoe het ek drie babas wat binne my groei?"
Volgens haar was die dokter baie bekommerd en het hulle met haar gesels oor die risiko's van 'n drielingswangerskap.
"Die dokters het bly sê ek moet in gedagte hou dat dit 'n hoë risiko is en dat een van hulle dit moontlik nie kan maak nie. Ek het dit nie geglo nie. Iets in my het net vir my gesê dié drie mannetjies gaan dit maak. Die dag wat hulle die keiser gedoen het, het ek elke keer my asem opgehou tot ek al drie hoor skree het. Dit was die mooiste geluid en my hart was so dankbaar."
Josephs vertel dat Quiwin en Quirin weens hulle gewig in die neonatale-eenheid opgeneem is.
"My hart was seer. Ek wou hulle so graag vashou. Ek is na drie dae met net Quilin ontslaan. Die idee om die ander twee in die Kaap te los was vir my verskriklik. Ek was baie bekommerd oor hulle. Ek moes drie weke later vir Quiwin in die Kaap gaan haal en toe weer 'n week later vir Quirin. Ek het die babas by my ma-hulle gelos omdat die heen-en-weer te veel vir hulle sou wees. Vir omtrent 'n maand was my hart in twee geskeer, maar nou is hulle by die huis."
Om een kind groot te maak is reeds vir baie ouers 'n uitdaging, maar Josephs skrik nie vir drie nie - sy het haar 'village' agter haar.
Haar ma, Marilyn, sê hulle was so opgewonde om te hoor dis drie.
"Ons was verras om te hoor al drie is seuns. Ons het tweelinge in die familie, maar hierdie is 'n eerste vir ons."
Pa Quiton Ewerts en ma Cameron Josephs spog met hul drieling. Foto verskaf
Josephs sê beide haar en Ewerts se families is gretig om te help.
"Ek is dankbaar dat ek dit nie alleen hoef te doen nie. Almal help regtig en Quiton is so trots op sy drie seuns."
Die familie staan ook by in die aande.
"Die pajama-drill kan uitdagend wees. Net sodra een slaap, is die ander een wakker.
Gelukkig help almal in die huis. Ek gee bottel omdat dit meer prakties is en ek in elk geval nie melk gehad het nie."
Oor of sy nog kinders wil hê, sê Josephs, besluit sy nog.
"Quiton wil graag 'n dogtertjie hê, maar die dokter het gesê die kanse is groot vir nog 'n meerlingswangerskap. So ek weet nie. Hulle is klaar so duur, veral omdat ek drie van alles moet koop en hulle op formule melk is."
2025 is vir haar 'n groot jaar - nie net is sy 'n splinternuwe mamma van 'n drieling nie, maar gaan sy ook met haar onderwysstudies deur Unisa begin.
"Ek het al aansoek gedoen, maar het nooit ingekom nie en net voor hulle gebore is het ek gehoor ek het plek gekry. Ek weet dit gaan nie maklik wees nie, maar ek sal regtig graag my studies wil voltooi, want ek doen dit vir hulle."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’