OUDTSHOORN NUUS - Hazel Jonker, 'n geskiedkundige, kultuurbewaarder en inspirerende vrou, word met reg beskou as Oudtshoorn se vooraanstaande storieverteller.
Sy lewer ook 'n onskatbare bydrae tot die bewaring van die dorp se ryk erfenis en is bekend vir haar leierskap, beginselvastheid en haar stryd vir vroueregte.
Hazel se liefde vir geskiedenis is diep in haar kinderjare gewortel. Sy vertel met nostalgie van ouers en grootouers wat stories met 'n meesterlike flair vertel het, van Bybelverhale en spookstories tot beskrywings van dorpskarakters.
"My oupa het ons gereeld geneem om die begraafplaas te besoek, op soldertrappe te klim en deur die geheime van die geskiedenis te snuffel. Dit was daardie ervarings wat my aangetrokkenheid met die verlede aangewakker het."
Sy glo dat dit 'n groot voorreg is om jou hele lewe in een dorp te woon. "Jou eie verhaal raak vervleg met die dorp s'n. Ek was van jongs af betrokke by erfenisprojekte en dit het my gehelp om 'n ingesteldheid te ontwikkel om 'n positiewe verskil te maak," sê sy.
Maar Hazel se reis was nie sonder uitdagings nie. Sy het nie geskroom om teen onreg op te staan nie,.
"Ek is jare gelede genooi om by die plaaslike rolbalklub aan te sluit, maar het dit aanvanklik van die hand gewys omdat vroue nie as klubpresidente kon dien nie. Vandag het daardie diskriminasie grootliks verdwyn, maar die stryd vir gelyke regte duur voort, en dit bly 'n saak wat vir my baie na aan die hart lê."
Hazel herinner ons dat aktivisme nie net op een dag per jaar moet plaasvind nie.
"Ons moet elke dag 'n stem wees vir vroueregte en vir die behoud van ons kultuur en geskiedenis. Dít is hoe ons werklik 'n verskil maak." Sy spoor jongmense aan om vroeg reeds betrokke te raak, of dit by die biblioteek, 'n museum, 'n kunsuitstalling of 'n skoonmaakaksie is.
"Ek het op negejarige ouderdom my eerste biblioteekboek uitgeneem. Ek glo dat
museums, erfenisstigtings en gemeenskaps-inisiatiewe ook vir die jeug oop moet wees. Dít is waar bewuswording begin. Ons moet almal daartoe poog om die wêreld rondom ons 'n beter plek te maak - nie net vir vandag nie, maar vir elke dag wat volg."
Deur haar werk met organisasies soos die Simon van der Stel Stigting, Heritage Oudtshoorn Erfenis en die Vriende van die CP Nel Museum, dra sy voortdurend by tot die behoud van Oudtshoorn se karakter en identiteit.
Hazel Jonker is veel meer as net 'n storieverteller, sy is 'n simbool van wyse vroulike leierskap, iemand wat wys dat omgee, moed en kultuurbewaring hand aan hand gaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’