OUDTSHOORN NUUS - Wilhelm Geldenhuys, tans voorsitter van die Suid-Kaap Koivisvereniging en beoordelaar van die ZNA-koiklub het meer as 50 jaar se kennis van dié visse.
Koi (Cyprynis Carpio) is gewilde ornamentele visse soortgelyk aan die goudvis.
Die woord koi kom van die Japanese woord wat karp beteken, want alle koivisse is karpe. Die ornamentele koi word meer spesifiek Nishikigoi genoem. Koi kan 'n redelike lang lewe hê en daar is historiese bewyse dat sommige koi oor 'n 100 jaar oud kan word. Die oudste gedokumenteerde koi, Hanoko het 226 jaar oud geword en was 1,5 m lank. Terloops, dis nie die grootte van die vis wat sy prys bepaal nie, maar die kwaliteit. Die reserwe kampioen koivis in Suid-Afrika is onlangs by die Gautengse-koiskou vir R750 000 verkoop.
Volgens Geldenhuys is die meeste koivisse afkomstig van Japan, China, Israel en Indonesië. Geldenhuys is ook bekend vir sy wye versameling goudvisse, maar besit ook Butterfly koivisse in sy uitgebreide versameling.
Sy vrou, Riana, is net so betrokke by die visse en het net soveel kennis as Geldenhuys. Hy reis gereeld na Japan vir kursusse en leer volgens hom elke dag nog iets nuuts oor dié spesie. Hy beoordeel ook koi wêreldwyd op uitnodiging.
"As dit by beoordeling kom kyk ons onder andere na die kleur en balans van die vis."
Hy het 'n indrukwekkende damstelsel by sy huis met verskeie damme vol Butterfly koi, maar meestal goudvisse. Hy huur ook 'n paar damme op plase buite Oudtshoorn.
Dit is ook tot voordeel van die boere, aangesien die visse hul damme skoonhou.
"Hoe groter die dam is waarin hulle woon hoe gesonder sal jou koivisse wees. Die grootte van die dam bepaal ook hoe groot die vis sal word. 'n Koivis kan van 1,2 m tot 1,3 m lank word en natuurlik word hulle baie oud ook in ideale omstandighede."
Wanneer hy nuwe visse aankoop sit hy hulle eers in kwarantyn om te verseker geen parasiete word na sy damme oorgedra nie.
Koi kom in verskeie kleure voor. Oranje, rooi, geel, wit en swart kom die meeste voor.
Die volgende is die mees dominante variasies:
Kohaku: Wit koi met 'n rooi patroon en is ook die gewildste koi wat versamelaars koop.
Taisho Sanshoku (Sanke): Wit koi met 'n rooi en swart patroon
Showa Sanshoku (Showa): Swart koi met 'n rooi en wit patroon
Ogon: 'n Koi wat eenkleurig is
Kin-Ginrin: 'n Koi wat lyk asof diamante op sommige van die skubbe skitter.
Tancho Kohaku: Wit koi met 'n ronde rooi kol op voorkop.
Jy kry net soos in karpe, ook koi in skubbe of glad wat dan Doits karb genoem word.
Daar is persone wat 'n hoë kwaliteit koi in Japan op 'n veiling aanskaf en dan word dié vis daar deur telers teen 'n fooi versorg. As die koivis begin skoue wen kan so 'n koi as belegging 'n hoë prys behaal.
Indien enige iemand wil aansluit by die Koiklub of meer inligting verlang, skakel Geldenhuys by 082 840 6184.
Fotogalery: Die aantrekkingskrag van Koi-visse
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’