OUDTSHOORN NUUS - Animal Care Team SA, in samewerking met verskeie plaaslike veeartse en die staatsveearts het die week hul derde Spay-a-Thon vir die jaar gehad.
Vanessa Engelbrecht, voorsitter van ACT SA sê hulle het oor twee dae ongeveer 105 honde en katte gesteriliseer.
"Ons is dankbaar aan elke persoon en instansie wat skenkings gemaak het om die Spay-a-Thon moontlik te maak. Ook aan Cango Wildlife Ranch wat elke jaar vrywilligers stuur om te help."
Engelbrecht sê projekte soos die Spay-a-Thon is baie belangrik.
"Om te steriliseer voorkom ongewenste werpsels. Elkeen van die babas moet goeie huise kry en almal is nie altyd so gelukkig nie. Dit is dus beter om die ongewenste swangerskappe te verhoed."
Die diere wat gesteriliseer is, kom van die landelike areas rondom Oudtshoorn.
Veeartse hard aan die werk. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'