OUDTSHOORN NUUS - Toe hy sy debuutdigbundel einde verlede week die eerste keer in die hand hou, was dit ’n droom wat waar geword het.
Tog maak dié werklikheid hom ook effens bang en senuweeagtig, vertel Hannes Visser, redakteur van Oudtshoorn Courant, oor 'Die jaar toe pa…' wat pas verskyn het.
Want nou behoort jare se harde werk en herskryf nie net meer aan hóm nie.
“As jou skryfwerk eers in die openbare oog is, word dit ook die eiendom van lesers en resensente," sê Visser.
Die 62 gedigte in 'Die jaar toe pa…' is losstaande momente in Visser se lewe toe hy so tien jaar oud was. Saam vorm dit ’n verhaal, hoewel die meeste ook alleen kan staan. Die jaar is 1967. Die plek is ’n buurt in Roodepoort waar hy saam met sy ouers en broer gewoon het.
Volgens Daniel Hugo, bekende digter, vertaler en radioman, wat die redakteur van die bundel was, “is die gedigte veral treffend vanweë die onemosionele trant waarin selfs die gruwelikste gebeure vertel word. Die nugter styl is die noodwendige gevolg van die kind se onbegrip van wat om hom in die grootmenswêreld afspeel. Hierdie botsing van perspektiewe ontlok by die leser ontroering en soms ook ’n glimlag.”
Die gedagte van ’n eie digbundel het ontstaan toe Visser iewers in 2016 vir Hugo van sy “laai-gedigte” vertel het.
“Daniel het gesê hy sien ’n digbundel vorm kry, maar twintig gedigte is te min – ek moet méér skryf. Dáár het ek begin glo in so ’n boek.”
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'