OUDTSHOORN NUUS - Een van die Klein-Karoo se gewildste rymkletsers, Karoo King van Ladismith, het onlangs sy langverwagte debuutalbum Deary 4 vrygestel. Twee jaar nadat 'n verwoestende brand sy peperduur musiektoerusting en verhoogklere vernietig het.
Baie musiekaanhangers sal natuurlik Karoo King (ook voorheen bekend as Moreno) onthou as die energieke en charismatiese rymkletser wat in 2015 die Showville-talent-kompetisie met sy oorspronklike liedjie, Pittekop, gewen het wat op SABC 2 uitgesaai is.
Deary 4 (Deur die vuur) is deurspek met vlymskerp hip-hop - en soul - lirieke wat dié talentvolle kunstenaar se veelsydigheid in verskillende musiek genres onderstreep. Oor die inspirasie agter sy musiekalbum vertel Karoo King dat hy weens die brand in 'n diep put van depressie verval het en daagliks met God geworstel het oor hoekom hierdie integrale deel van sy menswees so wreed van hom af weggeruk is toe hy op die kruin van sy musiekloopbaan was.
"Dit het so erg geraak dat ek naderhand op die punt was om op te hou liedjies skryf. Ek het begin om 'n werk weg van musiek af te soek net om die pot aan die kook te hou. Soos die Meester dit wou hê het ek my jare lange boesemvriend en musiekvervaardiger, Breimasjien, raakgeloop wat my weer oortuig het om my pen op te neem en die res soos hulle sê, is geskiedenis.
"As ek nou terugkyk kan ek sonder twyfel getuig dat dié beproewingstydperk my geloof versterk het."
Twee van dié album se liedjies Pragstuk en Yttie modderslyk het reeds op EDENfm- radiostasie gespeel. Deary 4 is sedert verlede week op alle aanlyn musiekwinkels beskikbaar. Vir enige navrae e-pos Karoo King by bookingsbarbarr@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'