DE RUST NUUS - De Rustica Olive Estate, 'n olyfplaas in die Klein-Karoo buite De Rust, het internasionale erkenning ontvang toe hul Favolosa EVOO Estate Collection as algehele wenner by die eerste internasionale NOVA-toekennings in Spanje aangewys is.
Benewens hierdie prestasie is De Rustica se Cortina-olyfolie ook onlangs as een van die top 10 olyfolies ter wêreld aangewys tydens die EVOOEUM-kompetisie, wat ook in Spanje aangebied is.
Die Cortina is reeds in 2023 by dieselfde kompetisie as die wêreld se beste olyfolie bekroon.
Volgens Louwrens Storm, bemarkings-bestuurder van De Rustica, is die span besonder trots om binne die bestek van 'n maand twee groot internasionale toekennings te ontvang.
"Dit is werklik 'n groot voorreg om vir drie jaar agtereenvolgens onder die top 10 olyfolies in die wêreld aangewys te word," het hy gesê.
Die 2026 NOVA-toekennings is die wêreld se eerste internasionale kompetisie wat uitsluitlik fokus op ekstra suiwer olyfolies wat uit nuwe olyfvariëteite vervaardig word. Die kompetisie is ingestel om erkenning te gee aan 'n nuwe generasie olyfolies wat ontwikkel is deur moderne genetiese verbetering en navorsingsprogramme.
Die toekennings word georganiseer deur Extra Virgin Solutions en die Spaanse Nasionale Navorsingsraad (CSIC), met ondersteuning van die Iberiese Vereniging van Olyfboorde met Heining (Olivérica), Agromillora en Mercacei, asook borgskap deur CaixaBank.
Volgens die organiseerders kwalifiseer slegs olyfolies wat afkomstig is van nuwe kultivars wat gedurende die twintigste en een-en-twintigste eeu deur instellings soos CSIC, IFAPA, IRTA en verskeie Europese universiteite ontwikkel is.
Hierdie variëteite is spesifiek geskep om moderne landbou-uitdagings soos produktiwiteit, volhoubaarheid en klimaatsverandering die hoof te bied.
Rob Still, eienaar van De Rustica, het gesê De Rustica is verheug om die algehele eerste prys by die 2026 NOVA-toekennings vir hul Favolosa-kultivar ekstra suiwer olyfolie te ontvang.
"Hierdie toekenning is besonder betekenisvol, aangesien dit ons volgehoue strewe na innovasie en uitnemende gehalte erken en terselfdertyd De Rustica se gevestigde status as 'n produsent van wêreldklas-olyfolie bevestig."
Volgens Still vereis alle bedrywe voortdurende innovasie en aanpassing om volhoubaar te bly, iets wat ook vir landbou en die internasionale olyfbedryf geld. De Rustica het oor jare nuwe internasionaal ontwikkelde kultivars en klone geëvalueer en aangeneem, terwyl regeneratiewe en volhoubare boerderypraktyke geïmplementeer is om oliegehalte verder te verbeter.
Die NOVA-toekennings is juis ingestel om hierdie voortgesette ontwikkeling in die wêreldwye olyfbedryf te ondersteun en nuwe variëteite objektief te evalueer.
Volgens die beoordelaars word die wenolie gekenmerk deur intense vrugtigheid met aromatiese note van groen olyf, groen piesang, groen amandel, basiliekruid, kamille, groen koring en dennenaalde. Op die verhemelte bied dit 'n sagte, soet aanvang met goed gebalanseerde bitterheid en skerpte, gevolg deur 'n komplekse en langdurige nasmaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’