DE RUST NUUS - Maryna Cotton en Sarel van Staden, twee bekende fotograwe en inwoners van De Rust, het saam met 'n handjie vol mede-De Rusters 'n gemeenskapskalender aanmekaar gesit met die doel om die gemeenskap te help. Hulle woon al die afgelope vier jaar in De Rust en dit is hul liefde vir die dorp en gemeenskap wat die projek geïnspireer het. Dié kalender, Koktyls, is Maandag 25 Maart tydens 'n gesprek met Coenie de Villiers by die KKNK bekendgestel.
Vir die kalender om te gebeur het sy mans genader om op 'n stylvolle manier, sonder klere te poseer. Die kalender bestaan egter nie net uit foto's van brawe inwoners nie, maar plaaslike restaurante en kroeë het ook hul gunsteling skemerkelkieresepte gedeel wat agter op die foto's op die kalender gedruk is.
Maryna Cotton in gesprek met Coenie de Villiers. Foto's: Liezl van Niekerk
"Dit was nie so moeilik om hulle te oortuig nie. Hier en daar het dit bietjie motivering gekos, maar die meerderheid was bereid en gewillig. Van die mans se vrouens het hulle sommer genomineer. Party was so maklik, hulle het sommer hulle eie klere uitgetrek," skerts sy.
Volgens haar het die idee gekom toe sy en 'n paar vriende by die hotel gesit en kuier het.
"Hier is ongelooflik baie talent in ons dorp. Die kinders kan op soveel plekke presteer, maar finansies kniehalter hulle soms. Die idee is dat ons die wins hiervan gaan gebruik om 'n gemeenskapskleinkas te begin sodat ons in die gemeenskap kan help," het sy vertel.
Hulle het einde Januarie begin en wou betyds vir die KKNK klaar wees. Daarom loop die kalender vanaf Julie 2024 tot Junie 2025.
Volgens haar was die span so gemotiveer om 'n verskil in hulle gemeenskap te maak dat hulle hul "persoonlike grense verskuif het, ongemak in die gesig gestaar het, en hul vrese oorkom het, sodat hulle die kamera sonder hul oorpakke, hemde en broeke in die gesig kon staar.""Dit was 'n heerlike projek om aan te pak, iets wat al 'n geruime tyd op my bucket list is. Dit het 'n gevoel van samehorigheid in ons gemeenskap geskep. Die uitdaging was om te onthou dat ek nie met professionele modelle werk nie, maar doodgewone mans met 'Dad Bods'. Ons wou dit uniek en stylvol laat lyk en ek dink dit was presies wat ons bereik het."
Niekie Eskteen is mnr. Oktober.
Die 13 mans wat hulself vir die projek ontbloot het was:
Swepie le Roux (83), bekende boer/wynmaker in die streek en ook die bonus op die kalender, David Levy, De Rust se eie roomysmaker (Julie), Bruwer Gendenhuys, besigheidseienaar, kunstenaar en musiekant (Augustus), Soan Jacobs (September), Niekie Eksteen, besigheidseienaar (Oktober), Ben Pretorius, afgetrede joernalis (November), Piet Smit, besigheidseienaar (Desember), Nico Grobbler, afgetrede geoloog en besigheidseienaar (Januarie), Marius Alberts, besigheidseienaar (Februarie), Brian Harmse, sakeman (Maart), Sarel van Staden (April), Tim Jones, besigheidseienaar (Mei) en Werner Alberts, besigheidseienaar (Junie).
"My eerste gedagte was: Wat gaan my dogters sê? Gelukkig was hulle nie te bekommerd nie en het my herinner dat ek nie so skaam is nie. Ek glo ook dat die opbrengs van die kalender 'n verskil kan maak," vertel Le Roux.
Swepie le Roux is die bonusfoto.Geldenhuys sê hy beskou die projek as 'n waaghalsige, maar stylvolle projek om die mense in die gemeenskap te kan help.
Levy sê dit was heerlik om deel van die projek te wees.
"Maryna kon dit regkry om gewone mense, met al hul tekortkominge te vat en iets besonders te skep. Ons kon net ons wees. Dit was gemaklik en lekker."
Om meer van die waaghalse te leer en die skemerkelkieresepte te sien koop die kalender by besighede in De Rust of die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor teen R150. Maryna Cotton kan ook by 082 857 0479 of by maryna@photowise.co.za gekontak word.