DE RUST NUUS - "Ons wou graag iets doen om De Rusters se gemoedere te lig en sommer net saamkuier en iets vir die gemeenskap doen."
Dit was dr. André Hattingh van De Rust se rede vir Saterdag 4 Julie se potjiekoskompetisie wat hy gereël het. Hattingh sê die sluiting van Meiringspoort is 'n reuseterugslag vir die dorp se ekonomie en besigheidsmense se gemoedstoestand.
Daarom het hy besluit om 'n potjiekosdag te reël waar mense net positief kan wees.
Die kompetisie is voor die NG-kerksaal gehou en 12 spanne het ingeskryf.
Die 'lang' potte met vleis wat ure lank moes kook, het reeds teen elfuur geprut. Elke span moes genoeg kos voorberei sodat vier ekstra etes aan mense bo 50 in De Rust gegee kon word.
Daar was 48 heerlike etes wat aan ouer mense voorgesit is. Sommiges het hier by die kerksaal kom aansit, maar vir dié wat nie kans gesien het om in die koue uit te kom nie, of nie maklik kan beweeg nie, is die etes by die huise afgelaai.
Alhoewel die dag bloot as 'n pretdag aangebied is, het die kokke hul potjies ernstig opgeneem.
Volgens Hattingh, wat self 'n uihalerkok is, het die beoordelaars internasionale kriteria gebruik vir die beoordeling.
Die beste pot is aangewys volgens geur, smaak, tekstuur, voorkoms, kleur, oorspronklikheid, asook higiëne en netheid.
Daar was nie net 'n kategorie vir beste pot nie, maar ook spanpryse vir die beste aanbieding, beste spangees en beste stalletjie.
Dan was daar natuurlik ook die gevaar om die 'O, gonnatjie'-prys te wen indien 'n pot aangebrand het, sout vergeet is of 'n potjie in die vuur omgeval het.
Die wenners is Saterdagmiddag by die De Rust-hotel aangekondig.
Die wenners van die beste pot en die algehele wenners van die dag was Ama Bokko met hul saffraanpot. Die saffraan het al die pad van Marokko gekom.
Hulle was ook die wenners van die beste tema en mooiste tafels. Die spanlede was Heerden en Hannelie van Niekerk, André en Annamrie Nel, en Marie van der Westhuizen en Henri van der Westhuizen as ondersteuner en aanmoediger.
Die span met die beste gees was Angus Gardner, Timo en Amalia van der Nest en Schalla en Robin van Schalkwyk.
Die beste bykosse en bediening was Ben Pretorius, Lanie-Marie Roets, Hanri en Wilhelmde Swart en Juria le Roux.
Volgens Hattingh kan mense solank resepte begin toets en hul potte blink hou vir volgende jaar se kompetisie - "op dieselfde plek, met dieselfde gees, maar met nog meer potte en gesigte".
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’