DE RUST NUUS - Die vreugdevure brand steeds hoog by Rooirivier VGK Primêr, sowat 35 km vanaf De Rust, nadat die skool deur Oudtshoorn korrektiewe sentrum aangeneem is.
Skooluitrustings, 'n stel van twee maskers asook 'n gesonde kospakkie is aan 33 leerders oorhandig is.
Volgens Jolandy Claasen, maatskaplike werker by die sentrum, skenk die sentrum jaarliks skooluniforms aan geïdentifiseerde skole in die streek.
Die sentrumhoof, Phillip Busch, sy bestuurspan en personeel het vanjaar besluit om 'n skool in die distrik te kies.
Behalwe vir die skooluitrusting sal die sentrum die skool regdeur die jaar ondersteun waar nodig.
Rooirivier VGK Primêr is 'n plaasskool op die pad na Willowmore met twee opvoeders. Die skool bestaan uit twee klaskamers, 'n kantoor, kombuis en toiletgeriewe. Elke opvoeder onderrig drie grade en van die leerders stap daagliks so ver as 4 km om by die skool te kom omdat daar geen skoolvervoer is nie.
Sommige van hulle loop kaalvoet en dit gebeur dikwels, veral in die winter, dat van hulle tuisbly omdat hulle nie oor warm skoolklere beskik nie.
Die meeste van die leerders is kinders van enkelouers en plaasarbeiders wat op staatstoelae staatmaak.
Die 33 leerders het volgens Claasen elk volle somer- en winter skooluitrusting ontvang. Die projek is 'n inisiatief wat die Suid-Kaapse areakommissaris van die departement korrektiewe dienste, Ndileka Booi wat agt jaar gelede begin het. Volgens haar is opvoeding 'n basiese reg en om nie 'n skooluniform te besit nie, moenie kinders daarvan ontneem om skool by te woon nie.
Die personeel van Oudtshoorn korrektiewe sentrum het, soos in die verlede, weer hand in hul eie sakke gesteek vir 'n bydrae om die skoolklere aan te koop.
"Dit is vrywillig, maar elke lid dra by," sê Claasen.
Weziwe Tshazibane, adjunkhoof en operasionele ondersteuningskoördineerder van die sentrum, het die leerders aangemoedig om gereeld skool by te woon en hard te leer.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'