OUDTSHOORN NUUS - Motorfietsryers wat aan die De Grootvoël Rally 2025 verbonde is, het op Vrydag
14 November by die Kango-bergoord vergader om seker te maak dat alle reëlings in plek is vir die komende motor-fietsbyeenkoms wat van 28 tot 30 November plaasvind.
Die geleentheid lok jaarliks motorfietsryers van regoor die land en dien terselfdertyd as 'n fondsinsamelingsprojek. Vanjaar sal fondse, geskenk word aan die Irma Bruschi-kankerhuis in George en die Eljada-nasorgsentrum in Oudtshoorn. 'n Toy Run vorm ook deel van die program, aangesien baie motorfietsklubs hierdie inisiatief elke November ondersteun.
Die ontstaan van die byeenkoms kan teruggevoer word na 'n familielid van die klub wat baie lief was vir motorfietsry. Ná sy dood is besluit om 'n motorfietsklub in sy eer te stig - 'n klub wat nie net sy liefde vir motorfietse vier nie, maar ook sy omgeegees deur gemeenskapswerk uitleef. Die klub is in 2021 gestig.
Volgens Alex van der Walt, een van die organiseerders, word daar vanjaar meer deelnemers as in 2024 verwag, met 'n vol program wat vir motorfietsryers aangebied gaan word.
"Hierdie is 'n geleentheid met 'n doel," sê Van der Walt. "Ons werk nou saam met die Oudtshoorn-munisipaliteit en Oudtshoorn- en De Rust-toerisme. Vir ons gaan dit daaroor om terug te gee aan die gemeenskap, en ons hoop om weer vanjaar daarin te slaag om broodnodige skenkings te maak."
Die byeenkoms beloof om nie net opwin-dende aksie vir motorfietsentoesiaste te bring nie, maar ook 'n waardevolle finansiële inspuiting vir Oudtshoorn en plaaslike toerisme te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’