STREEKNUUS - Interimleier van die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa), Dawid Kamfer, is op 26 April oorlede na 'n langdurige stryd teen nierversaking.
Volgens 'n verklaring wat deur Icosa uitgereik is was Kamfer 'n voormalige Mosselbaai-raadslid en provinsiale voorsitter van die party.
"Hy was 'n bekende en uitgesproke figuur binne die party. Sedert 2022 was hy aan die voorpunt van pogings om Icosa se omstrede president, Jeffrey Donson, te verwyder. Kamfer se beginselvaste teenkanting teen Donson se leierskap het gelei tot diep verdeeldheid binne die party en 'n uitgerekte regstryd."
Luidens die verklaring is dié regstryd steeds onopgelos ten spyte van die nadering van die Wes-Kaapse hooggeregshof vir verligting.
Donson het die week gesê dat, ten spyte van hom en Kamfer se politieke verskille was hulle groot vriende.
"Hy het 'n waardevolle bydra tot die party gelewer. Ons het baie gestry, maar ook oor baie dinge saam gestem. Sy dood is vir my 'n geweldige skok en hy sal regtig gemis word, nie net deur die party nie, maar ook oor die gemeenskap en die mense in wie se lewe hy 'n groot rol gespeel het."
Behalwe vir sy politieke loopbaan was Kamfer 'n gerespekteerde lid in rugbykringe en is hy bewonder vir sy toewyding aan menseregte en erfenisbewaring.
"Hy was 'n voorstander van die hernoeming van Kaapstad Internasionale Lughawe na Krotoa Internasionale Lughawe, 'n voorstel wat tans deur die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, oorweeg word. Kamfer het ook die oprigting van 'n standbeeld van Krotoa by die Kasteel van Goeie Hoop ondersteun."
Hy word oorleef deur sy vrou en vier kinders. Winnie Kamfer het belowe om sy stryd vir geregtigheid voort te sit, en gesê sy nalatenskap van moed, aanspreeklikheid en voorspraak moet nie vergeet word nie.
Kamfer word Saterdag in Mosselbaai begrawe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’