OUDTSHOORN NUUS - Die eggenote van Apostel Lionel Venter van die Bridgton Assembly of God Kerk (BAOG), Alet Venter (59), is Saterdag 21 Desember 2024 ter ruste gelê nadat sy op14 Desember na 'n lang siekbed oorlede is.
Die kerk was stampvol en talle begrafnisgangers het buite die kerk vanuit 'n markiestent en die skaduwee van 'n groot boom die diens op televisie gevolg het.
Venter is in huldeblyke beskryf as 'n dinamiese vrou van inbors. Sy was onder andere die jongste president van die nasionale vrouevereniging van die genootskap.
Pastoor Sophia Roman het Venter as 'n dapper vrou beskryf wie se karakter ver bo korale was. Sy was 'n nederige vrou wat in haar stilheid ver bo haar omstandighede gelewe het.
In 'n staaltjie van watter dapper vrou Venter was, het Roman vertel van 'n voorval destyds in Bloemfontein toe iemand haar handsak gegryp en sy hom by 'n taxi-staanplek agterna gesit het om haar handskak terug te kry.
Die polisie moes haar keer omdat dit te gevaarlik vir 'n vrou was.
Mary van Wyk van die Kalahari het in haar huldeblyk Venter as 'n vrou van min word beskryf maar dinamies en iemand standpunt ingeneem het wanneer nodig.
"Alet was lief vir sing en het altyd eers die Here gekonsulteer voordat sy enige iets aangepak het. Sy het altyd van ons gepraat en nie van ek nie."
Volgens Diann Arends was haar vriendskap met Venter uniek.
"Alet het haar stem verhef vir die behoeftiges en vir die gemeente was hul juffrou waardevol en almal baie lief vir haar. Sy was ferm en het haar mede-susters aangespreek wanneer nodig. Sy het ook haar alles vir die Sondagskool gegee en was 'n legende van 'n moeder."
Volgens Jenny Daniels was Venter vanaf 2014 tot 2020 die nasionale voorsitter van die AOG Vrouevereniging en 'n ware leier. Sy was 'n vrou met ‘n visie met ‘n besondere liefde vir haar gemeente.
“Alet het haar nooit hoër geag as ander nie. Sy was ’n nederige en liefdevolle mens maar kon by tye ook baie verspot wees, ” het Daniels op ‘n ligter noot gesê.
Sy was ‘n spontane inspirerende mens wat haar eggenoot ten volle bygestaan het in sy bediening, met 'n nederige geaardheid, sagte woorde en laat 'n geweldige leemte.
Die Venter-egpaar was vir 35 jaar getroud.
Venter laat haar man, Lionel, twee kinders, Anver en Leonie, vier kleinkinders en vier susters agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’