OUDTSHOORN NUUS - Ek is betrokke by sektor drie (Oudtshoorn dorp) se gemeenskapspolisiëringsforum waar ek as voorsitter dien. Namens ons komitee wil ek baie dankie sê aan al die sekerheidsmaatskappye wat hulle weg oopgesien het, om verlede Woensdag aan die magsvertoonrit deur die dorp deel te neem.
Die optrede in samewerking met die plaaslike SAPD, is deur kapt. W du Plessis, SAPD sektorbevelvoerder, gereël. Baie dankie ook aan die stasiebevelvoerder, brig. Levona Januari vir haar ondersteuning van hierdie aksie.
Ons is almal terdeë bewus van die bedreiging wat misdaad vir ons dorp inhou, en die negatiewe impak wat dit op ons gemeenskap het. Dit is optredes soos hierdie, wat 'n mens weer bewus maak van die bereidwilligheid van mense om betrokke te raak om die gemeenskap te beveilig.
Dit is optredes soos hierdie wat ook verseker dat ons almal (hopelik) 'n veilige en genotvolle feestyd kan meemaak.
Ons dink aan- , en bid vir die mense wat op verskeie terreine moet werk oor die feesseisoen.
Behandel asseblief almal wat u in 'n amptelike hoedanigheid teëkom, met respek en empatie. Hulle het dit nodig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'