OUDTSHOORN NUS - Die verkiesing van 'n nuwe burgemeester vir Oudtshoorn was nie 'n eenvoudige taak nie.
Chris Macpherson is Dinsdag as uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn verkies nadat 'n koalisie tussen die DA, Icosa en Sarco gevorm is.
Dit het duidelik geword toe die onderburgemeester, Nolothandu Mwati (DA), direk na die verkiesing van Macpherson aangekondig het dat sy as onderburgemeester bedank.
Gevan Juthe (Sarco) is daarna as onderburgemeester verkies.
Met haar bedanking het Mwati gesê sy neem die stap tot voordeel van Oudtshoorn. Die ANC het heftig beswaar gemaak en wou weet wat is aan die kleiner partye belowe om met die DA saam te werk. Tydens 'n perskonferensie Woensdagoggend het Mwati gesê daar was geen druk op haar om te bedank nie.
Sy het gesê die feit dat vier DA-raadslede weier om saam te werk het haar laat besef dat Oudtshoorn daaronder ly en dat sy ter wille van die gemeenskap die besluit geneem het.
Macpherson het dit bevestig. "Ongelukkig is dit so dat van my eie party se lede nie met die koukus saamstem nie en dit het die afgelope aantal maande geweldige spanning veroorsaak."
Volgens hom het die besluit om met Sarco en en Icosa saam te werk op verskeie samesprekings gevolg. "Ek kan dit onomwonde stel dat lede van die drie partye met ons saamwerk tot voordeel van die gemeenskap, ons kan nie langer bekostig dat persoonlike agendas die werksaamhede van die raad kniehalter nie. Ons kan ook nie langer toelaat dat enkele raadslede die raad gyselaar hou nie."
Die Oudtshoorn Courant het aan Macpherson, Juthe en Vlancio Donson (Icosa) gevra of dit wat in Sentraal-Karoo gebeur het, nie ook hier gaan gebeur nie. Daar het die koalisie tussen die DA en kleiner partye verlede maand skipbreuk gely en die kleiner partye het toe met die ANC begin werk en die mag uit die DA se hande gegryp. In antwoord hierop het Macpherson gesê hy is oortuig daarvan dat dit nie hier sal gebeur nie. "In my samesprekings met die ander drie partye was dit baie duidelik dat hulle die besluit nie ligtelik opneem nie en hulle ten volle by die DA skaar."
Hy het ook genoem dat koalisies soos dié wat in Sentraal-Karoo gevolg was, reeds in 2016 tot stand gekom het. "Hierdie samewerking tussen partye kom aan die einde van 'n termyn wat daarop dui dat dit oor diens gaan, nie oor persoonlike agendas nie."
Juthe en Donson het ook bevestig dat hulle hulself nou as deel van die regerende party ag en daartoe verbind is om die gemeenskap te dien.
Macpherson het bygevoeg dat hy eerder met raadslede van ander partye saamwerk as met raadslede van sy eie party wat hulle eie koers wil inslaan.
Vier DA-raadslede was Vrydag sonder verskoning afwesig by 'n raadsvergadering en dieselfde vier was ook nie deel van Dinsdag se vergadering nie. Macpherson het gesê hulle sal volgens raadsriglyne deur die speaker aangespreek word en dat hulle party ook sal besluit of daar stappe teen hulle geneem sal word.
Macpherson het Woensdag ook die nuwe burgemeesterskomitee aangekondig.
Die burgemeesterskomitee sien nou as volg daar uit: Chris Macpherson, DA (uitvoerende burgemeester), Gevan Juthe, Sarco (uitvoerende onderburgemeester sowel as strategiese dienste), Nolothandu Mwati, DA (behuising), Johan Fourie, DA (gemeenskapsdienste), Vlancio Donson, Icosa (tegniese dienste), George Kersop, DA (finansies) en Barbara Owen, Icosa (korporatiewe dienste).
Diswayne Maarman (EFF) is steeds voorsitter van die oorsigkomitee van openbare rekeninge.
Die huidige burgemeesterskomitee van Oudtshoorn is, van links: George Kersop (DA), Johan Fourie (DA), Nolothandu Mwati (DA), Chris Macpherson (DA), Gevan Juthe (Sarco), Vlancio Donson (Icosa) Afwesig: Barbara Owen (Icosa). Foto: Hannes Visser
Die speaker van Oudtshoorn, Julia le Roux by die nuutverkose burgemeester, Chris Macpherson (links) en Gevan Juthe, onderburgemeester.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'