Tydens `n vergadering, Dinsdagmiddag by die plaaslike DA-kantore, het Chris McPherson van die DA beklemtoon dat die klagtes nie verband hou met enige persone nie, maar eerder die "misbruik van ampte wat nou in disrepuut gebring word en die belemmering wat dit bring."
Volgens McPherson is stawende bewyse ingedien dat die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Gordon April, onderburgemeester, Vlancio Donson en speaker, John Stoffels, die gedragskode vir raadslede oortree het en die raad in disrepuut gebring is.
Klagtes teen Donson hou verband met die beweerde voordeel wat die onder-burgemeester sou trek uit kontrakte vir die verskaffing van dienste aan die munisipaliteit. Beëdigde verklarings is as bewyse aangeheg en volgens McPherson is van die klagtes ook reeds deur AfriForum onder aandag van die Valke gebring.
Daar word gevra dat die burgemeester ondersoek word omdat hy tans in drie verskillende hofsake in die beskuldigde bank staan. Die hofsake is die sand-en-klip saak, die beweerde onregmatige uitbetaling van `n skeidingspakket aan `n voormalige munisipale bestuurder, Mpho Mogale, van meer as R1 miljoen asook die beweerde onregmatige uitbetaling van geld aan Rufed, `n maatskappy wat in 2011 dienste aan die munisipaliteit gelewer het.
Verder word beweer dat hy die munisipale sistemewet verbreek het, "deurdat hy verskeie waarnemende munisipale bestuurders wederregtelik aangestel het sedert 2013." Dieselfde geld ook vir die aanstellings van verskeie direkteure.
Na bewering het die speaker gedragsreëls oortree met reis- en verblyfeise, sy betrokkenheid in `n aanrandingsaak en dat hy nie sy pligte nakom nie. In die verband word verwys na beleid wat voorskryf dat die speaker petisies moet aanvaar en binne 48 uur skriftelik erken, dat die speaker sedert 3 Augustus 2011 nie op benoemings van DA/Cope-raadslede vir komitees gereageer het en dat die speaker alleen portefeuljekomitees aangewys het.
Die speaker het nie teen saktyd op navrae gereageer nie. Sou `n antwoord ontvang word sal daar volgende week volledig daaroor berig word.
Die speaker, John Stoffels, is hierdie week deur die DA/Cope-koukus versoek om klagtes teen homself (heel links), die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Gordon April en onderburgemeester, Vlancio Donson, te ondersoek. Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'