OUDTSHOORN NUUS - Die toekoms van die CP Nel-museum is tans onseker. Die Oudtshoorn-munisipaliteit het twee weke gelede ’n uitstaande rekening van R980 000 vir water, elektrisiteit en dienste sedert 2016 aan die museum gestuur, rente ingesluit.
Volgens Herman Labuschagne, voorsitter van die Raad van Trustees, het die munisipaliteit etlike weke gelede, sonder waarskuwing of verduideliking, ’n span na die museum gestuur om ’n voorafbetaalde kragmeter te installeer. “Dit was totaal onverwags en het ons erg onkant betrap,” sê hy. “Ons het tot op daardie stadium nog nooit ’n munisipale rekening ontvang nie.”
Binne dae het ’n skuldinvorderingsagentskap opgedaag met ’n kennisgewing dat die volle bedrag binne sewe dae betaal moes word, anders sou die elektrisiteit afgesny word. “Dit was eenvoudig ’n onmoontlikheid vir die museum en ’n reuseskok vir ons almal,” sê Labuschagne.
Hy verduidelik dat die munisipaliteit later die eisbedrag verlaag het tot sowat R360 000 nadat vasgestel is dat die aanvangsdatum foutief was. Die verlaging maak egter steeds min verskil, aangesien die museum nie vir sulke kostes begroot het nie.
Labuschagne sê tydens ’n vergadering op 11 Augustus is die museum meegedeel dat die munisipaliteit hom op ’n nuwe huurkontrak beroep wat in 2023 deur die vorige raad gesluit is. Hierdie kontrak plaas die verantwoordelikheid vir die betaling van alle munisipale dienste op die museum, ’n drastiese verandering van die 1973-ooreenkoms waarin die munisipaliteit die kostes van die munisipale dienste gedra het, terwyl die museum instandhouding van die gebou moes hanteer.
“Instandhouding is juis waarvoor ons jaarliks sowat R600 000 van die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur ontvang.
Dié fondse mag slegs vir instandhouding gebruik word en word streng geoudit. Daar is dus eenvoudig geen voorsiening om maandeliks ’n water- en elektrisiteitsrekening te betaal nie,” verduidelik hy.
Intussen het die munisipaliteit dié week ook sonder waarskuwing ’n watermeter geïnstalleer. Die volgende dag is die watertoevoer summier afgesny. “Sonder lopende water kan ons nie besoekers of personeel akkommodeer nie. Werkende toilette is ’n basiese vereiste,” sê Labuschagne.
Die sluiting plaas beplande funksies in gedrang, insluitend die onthulling van die Poolse vlugtelingmonument op Erfenisdag in September, waartydens die Poolse ambassadeur en ander hooggeplaastes sou bywoon.
Labuschagne waarsku dat die museum se voortbestaan direk van die munisipaliteit afhang.
“Indien die historiese skuld nie afgeskryf en die huidige dienste nie geborg word nie, sal die CP Nel-museum noodgedwonge permanent moet sluit. Ons skat dat ’n normale munisipale rekening sowat R15 000 per maand sal beloop, ’n bedrag wat ons eenvoudig nie kan dra nie,” sê hy.
Indien die museum sou sluit, sal die inhoud ingevolge die Museumwet teruggeneem word, en die leë gebou met al sy instandhoudingsuitdagings aan die munisipaliteit oorhandig word. “Dan verloor Oudtshoorn sy kroonjuweel en die Klein-Karoo sy mees ikoniese instelling,” sê hy.
By navraag het Christo Vermaak, woordvoerder van burgemeester Johan Allers, bevestig dat die elektrisiteitsrekening intussen ondersoek en uitgesorteer is. “Die elektrisiteit is nie afgesny nie en die museum is tevrede met die voorafbetaalde kragmeter. Daar word tans ’n konvensionele watermeter geïnstalleer om ’n volhoubare watertoevoer te verseker. Hierdie reëlings is tydelik totdat die onderhandelinge afgehandel is,” het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’