OUDTSHOORN NUUS - Die CP Nel-museum het Maandag 21 Julie 'n nuwe assistent, Carla Ferreira (34) in die span verwelkom.
Sy bring 'n indrukwekkende akademiese agtergrond na die pos, met twee meestersgrade in musiek van die Universiteit van Stellenbosch en die Royal Conservatory of Liège, België.
Daarbenewens het sy 'n ook 'n meestersgraad MPhil in Development Policy and Practice van die Nelson Mandela School for Public Governance aan die Universiteit van Kaapstad voltooi.
Met uitgebreide ervaring in onderwys, kuns, kultuur en ontwikkeling, dien sy ook op die raad van ARCO in Prins Albert. Dit was tydens haar studies waar merkwaardige vroue 'n blywende indruk gelaat het. "My musiekonderwysers wat ek in my studiejare gehad het, het my drie lesse geleer: Droom, droom en droom, maar sit ook die werk in, wees professioneel te alle tye en, 'be a 'bad-ass'."
Carla en haar man het op 1 Desember vanuit Kaapstad na De Rust verhuis. Hulle het nie kinders nie, maar deel hul huis met twee Collies en 'n 16-jarige kat.
Sy noem dat vrouens nie onderdruk moet voel nie, en nie te veel hulle 'manlike-energie' kant gebruik nie, maar besef dat hul vroulike leierseienskappe juis hul beter in staat stel om selfs groter sukses te behaal.
"Ek verstaan hoekom baie vroue voel hulle moet hul manlike eienskappe omarm, dis seker maar 'n hanteringsmeganisme, veral in die werksplek, maar mens brand uit en jy verloor jou outentieke self.
My wens is vir die volgende generasie vroue dat hulle nie sal huiwer om net hulself te wees nie. Werk, werk en werk. Jy kan absoluut enige iets bereik as jy bereid is om die werk in te sit.
Begin by wat jy in jou onmiddellike realiteit kan doen en sien hoe die deure begin oopmaak. Daar gaan natuurlik struikelblokke wees, maar sien dit as deel van die groter prentjie. Doen net jou absolute bes."
Sy probeer om met dieselfde gesindheid te leef maak nie saak of sy by die werk, huis of in 'n sosiale omgewing is nie. "Ek probeer mense meet met omgee, respek en nederigheid, maak nie saak waar ek myself bevind nie."
Ferreira is reeds betrokke in die plaaslike gemeenskap met keramiek-studio groepklasse wat sy in De Rust aanbied Woensdae van 17:30 - 20:00. "Dit het ontaard in een van die mooiste byeenkomste van vrouens wat ek in 'n lang tyd ervaar het. Vroue met verskillende agtergronde, en daaglikse 'struggles' wat bymekaarkom, stil raak, skep en kreatief verkeer. Daar is iets besonders om 'n groep mense te hê wat net gefokus is op die nou, veral in vandag se tyd. Vriendskappe het natuurlik al gevorm en gesprekke tydens klasse is nogal iets vir die boeke!
Om 'n geleentheid te kry om iets vir jouself te doen, asook net af te skakel van jou daaglikse 'to-dos' help die vroue om weer 'recharged' terug te gaan na hul daaglikse roetines.
Herman Labuschagne, voorsitter van die museum se raad van trustees, het Ferreira gelukgewens met haar aanstelling.
"Sy is die eerste voltydse werknemer wat die museum, sedert 'n tyd sonder personeel, aanstel. Met haar twee meestersgrade is sy 'n groot aanwins, en ons sien uit daarna om saam te werk, om haar te ondersteun en te versterk met ons kennis, ervaring en aanmoediging."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’