OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn het 'n tweede geneesheer aan Covid-19 verloor. Die algemene praktisyn, dr. Pietie Cronjé (49) het Maandag aan Covid-19 beswyk.
Dr. Cronjé, wie se praktyk op die hoek van Hoogstraat en Voortrekkerweg geleë is, se heengaan volg vier maande nadat sy voormalige vennoot, dr. Nolan Dreyer ook aan die hand van die gevreesde virus omgekom het.
Tydens 'n onderhoud met Oudtshoorn Courant het Dr. Cronjé se vrou, Heidi, gesê dat haar man se afsterwe 'n groot slag vir die familie is veral omdat sy verlede Vrydag ook positief vir dié virus getoets is.
Volgens Heidi, wat tans in isolasie is, was haar man verlede Woensdag laas by die spreekkamer. "Ek kon dadelik sien dat iets fout is met hom. Hy het dit aan my bevestig toe hy vir my gesê het dat hy vir die res van die week nie weer werk toe gaan nie omdat hy 'onbeskryflik' tam voel. Sondag was dit so erg dat hy nie eens kon loop nie. Dis toe dat ons besluit het om die ambulans en dr. Merckel te ontbied wat hom dadelik na die Mediclinic Klein Karoo geneem het. Suster Wiese het ons Maandagmiddag in kennis gestel dat my man dit nie gemaak het nie," het sy emosioneel vertel.
Sy het haar man beskryf as 'n saggeaarde man met 'n hart van goud wat ander mense se behoeftes bo sy eie gestel het. Daarvan getuig die vloedgolf boodskappe op sosiale media vir 'n geliefde en gewilde dokter en mens. Wyle dr. Nolan Dreyer se vrou, Cindy, het gesê dat sy dr. Cronjé as student deur haar man leer ken het.
"Hulle was in dieselfde klas en het sedert 1990 'n hegte band gevorm, soveel so dat hy ons strooijonker op ons troudag was. Hy was ook vir sowat vyf jaar lank 'n vennoot by die praktyk in Toekomsrus. Hy was 'n baie beskeie, nederige en omgeemens wat geweldig deur ons familie gemis sal word," het sy gesê.
Die Cronje-egpaar het geen kinders nie, en was ses jaar getroud nadat hulle voorheen vir 12 jaar lank uitgegaan het. "My beste vriend is van my ontneem, maar in my hart is ek net bly dat hy sy lewenslange droom verwesenlik het om eendag sy eie spreekkamer te kon besit. Wat my betref kan ek net bid dat ek spoedig van Covid-19 sal herstel," het Heidi gesê.
Volgens haar is die toekoms van die spreekkamer tans onseker en sal 'n besluit in die komende weke geneem word. Dokter Cronjé sal in Calitzdorp begrawe word waar sy moeder tans woon.
Die personeel van Mediclinic Klein Karoo het hulle medelye Dinsdag betuig deur die landsvlag halfmas te laat hang.
Dr Pietie Cronjé en sy vriend Dr Nolan Dreyer tydens Dr Dreyer se troudag in die negentigs waar Cronjé die strooijonker was.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'