Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Leon Campher het vandag, 13 Februarie, in 'n mediaverklaring bekendgemaak dat hy as raadslid bedank het.
Campher, 'n proporsionele raadslid, het onder die vaandel van Advieskantoor gestaan. Volgens hom handel dit oor 'n persoonlike heksejag op hom sedert 2022.
"Ek het my termyn begin met 'n reëling oor my munisipale rekening in 2021. Twee jaar later was dit 'n item wat na die raad toe gebring is en is daar gevra dat ek van die raad verwyder moet word omdat ek die munisipaliteit geld skuld."
Volgens hom is die probleem met die reëling wat hy met die munisipaliteit gehad het twee weke gelede uitgewys.
"Omdat ek opreg is en omdat ek eerlik is het ek gevoel op grond van wat nou hier gebeur, bedank ek liewer want ek wil nie in ’n posisie wees wat teenstrydig is met wetgewing nie. Daarom bedank ek met onmiddellike effek."
Volgens hom het hy ook 'n kriminele klag teen die speaker, Johan Allers, gelê omdat hy na bewering in 'n stemboodskap Campher se status van sy rekening teenoor 'n derde party geopenbaar het.
Die munisipale betuurder, Walter Hendricks, het vanoggend ‘n brief van raadslid Leon Campher (Advieskantoor) ontvang waarin hy sy bedanking as raadslid indien.
"Aangesien Meneer Campher ‘n proporsionele raadslid is kan sy party ‘n plaasvervanger aanwys wat deur die OVK goedgekeur moet word. Die eerste stap in die proses is dat die munisipale bestuurder die OVK onmiddellik van die bedanking in kennis stel en vra dat ‘n vakature verklaar word. Nadat dit gedoen is, moet Advieskantoor die naam van hulle plaasvervanger aan die OVK voorlê vir goedkeuring. Die OVK sal dan die munisipale bestuurder in kennis stel van die nuwe raadslid waarna die inswering in die raadsaal gedoen sal word. Die redes vir Meneer Campher se bedanking was nie deel van die skrywe aan die munisipale bestuurder nie."
Lees ook die volledige berig in die week se Oudtshoorn Courant.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’