OUDTSHOORN NUUS - Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, gaan van 18 tot 21 Junie die Camino van die Sandsteenkerke, 'n spirituele reistog van tussen 65 km en 70 km aandurf om 'n verskil in kinders se lewe te probeer maak.
Noëth is 'n bekende figuur en skrywer in die Afrikaanse gemeenskap. Hy het teologie gestudeer en was leraar by verskeie gemeentes. Hy dien ook op die direksies van die Erfenisstigting, die Voortrekkermonument, die Solidariteit Bewegingstrust, die Federasie van Afrikaanse en die Kultuurvereniginge (FAK).
Die staptog begin met die verkenning van Oudtshoorn se volstruispaleise, sinagoge en die historiese St. Saviour Katedraal. Stappers stap deur pragtige landskappe, ervaar die wonders van die Rust-en-Vrede-waterval, en geniet olyfproe by De Rustica-olyfplaas.
“Die doel van die pelgrimstog is om 'n geestelike, fisiese en emosionele ervaring te bied wat die pelgrims nader aan hulself, mekaar, die natuurskoon en God bring. Die einddoel is om die nodige geld in te samel vir verskeie projekte van Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap-streek, soos die Kosblikkie-projek.” Noëth sê hy sien daarna uit om hierdie spesiale roete te stap.
"Die Camino van die Sandsteenkerke bied nie net voedsel vir die siel nie, maar ondersteun onder meer ook Solidariteit Helpende Hand se voedingskemas wat daagliks meer as 8 000 kleuters van etes voorsien.”
Stap saam
Daar is net 30 plekke beskikbaar. Lede van enige instelling binne die Solidariteit Beweging, kry 10% afslag. Besoek Klein-Karoo Camino by www.kleinkaroocamino.co.za om te bespreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’