OUDTSHOORN NUUS - Besoekers wat verblyf by die gewilde Calitzdorp-warmwaterbron wil bespreek word deesdae begroet met 'n "Sorry, we are closed"-bordjie.
Dzivhuluwani Mashila, bestuurder: projekte, eiendomme, fasiliteite en oordbestuur van die Tuinroete-distriks-munisipaliteit, het die week by monde van woordvoerder, Herman Pieters, bevestig dat die oord wel gesluit is.
Die oord is die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se eiendom en word ook deur hulle bestuur.
Volgens Pieters is die besluit vroeër vanjaar geneem weens onder meer finansiële verliese en uitgebreide infrastruktuurskade wat deur langdurige kragonderbrekings veroorsaak is. Die herstelkoste was nie volhoubaar nie.
"Die mees onlangse verlies het R2.3 miljoen in 'n enkele finansiële jaar oorskry. Daar was ook 'n afname in inkomste en herstelkoste van kritieke toerusting, soos transformators en waterpompe wat beskadig is deur beurtkrag en vloede, was ook hoog.
Dit het verdere druk op die operasionele volhoubaarheid van die fasiliteit geplaas. Ernstige oorstromings in 2024, 2023, 2006 en 2000 het aansienlike infrastruktuurskade veroorsaak, en versekeringsuitbetalings het nie al die skade gedek nie. Tussen 2023 en 2024 het ons oorgeskakel na 'n nuwe versekeringsmakelaar.
Ongelukkig is die mees onlangse eis na oorstromings aan die einde van die vorige versekeraar se kontrak ingedien, wat gelei het tot 'n minimale uitbetaling."
Die Calitzdorp-warmwaterbron was 'n gewilde toeriste-trekpleister 25 km buite Calitzdorp met natuurlike warmwater-bron. Die oord was oorspronklik bekend as Calitzdorp-spa en is in 2022 amptelik herdoop na Calitzdorp-warmwaterbron. Die oord het die afgelope paar jaar verskeie verbeterings en opgraderings ondergaan, insluitend dakvervangings, opknappings van die Romeinse bad en die implementering van 'n hernubare energieprojek.
Die oord het verskeie verblyfopsies, insluitend selfsorg-chalets en kampeerplekke gebied en besoekers kon aktiwiteite soos stap, voëlkyk, tennis en meer geniet.
Volgens Pieters was die saak tydens 'n raadsvergadering bespreek en is kennisgewings via amptelike kanale, insluitend sosiale mediaplatforms en die oord se webwerf uitgereik. Daar is ook direkte e-posse aan gaste wat vooraf besprekings gemaak het gestuur.
"Lede van die publiek het met gemengde reaksies op die sluiting gereageer. Sommige gemeenskapslede het die besluit verwelkom en gesê dit is "lankal agterstallig", terwyl ander dit as 'n beduidende verlies beskou omdat hulle daarvan gehou het om tyd daar saam met vriende en familie deur te bring."
Pieters verduidelik dat daar verwag word dat die bedryf van 'n akkommodasie fasiliteit deur die privaat sektor die finansiële volhoubaarheid daarvan sal verbeter, terwyl dit 'n inkomste vir die distriksmunisipaliteit sal bied. Volgens hom is daar 'n langtermynhuurkontrak wat vir eers opgeskort is hangende 'n grondeis vir die Calitzdorp-warmwaterbron en verskeie omliggende plase.
"Regeringsprosesse word dikwels beperk deur administratiewe rompslomp. Byvoorbeeld, wanneer onderhoudsprobleme ontstaan, kan werknemers nie bloot vervangingsonderdele direk koop sonder om verskeie verkrygingsprosedures te volg nie, wat dikwels nie eers enige reaksies van maatskappye wat versoek word om 'n kwotasie te gee, oplewer nie.
Dit beteken dat 'n versoek om kwotasies enigiets van vier werksdae tot twee weke kan neem om te finaliseer. Dit is maar een voorbeeld van hoe uitdagend dit is om 'n akkommodasiefasiliteit doeltreffend as die regering te bestuur."
Pieters sê verder dat die distriks-munisipaliteit wel onderhouds- en sekuriteitsplanne ingestel het om te verseker dat die oord nie verval nie en sal hulle voortgaan om die terrein en fasiliteite skoon te maak en in stand te hou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’