CALITZDORP NUUS - Calitzdorp is 'n klein dorpie op die R62 in die hartjie van die Klein-Karoo. Die vallei waarin die dorp ontstaan het was aanvanklik 'n meer en die grond is hoofsaaklik alluviaal met landbougewasse wat 1 km weerskante van die riviere verbou word.
Vroeë inskrywings in geskiedenisboeke dui daarop dat die Khoi na Kannaland as die vallei sonder gras verwys het.
Daar is ook verskeie rotstekeninge in die berge wat as bewyse dien dat die San en Khoi voorheen hier gewoon het.
In 1821 is grond aan JJ en MC Calitz gegee en hulle het die Buffelsvlei genoem.
In 1853 het die Calitze grond geskenk sodat 'n kerk en skool gebou kon word omdat Oudtshoorn te ver was om te reis vir die maandelikse nagmaal.
In 1910 het meer as 4 000 mense in die dorp gewoon en moes 'n groter kerk en skool gebou word.
Dié geboue is in 1912 voltooi. Dié kerk is in 1991 as 'n nasionale monument verklaar. Die ou Standard Bank-gebou is in 1912 gebou en huisves nou die museum.
Die treinspoor is in 1924 gebou en die dorp het in 1937 elektrisiteit gekry.
Die eerste sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp is in 1937 gebou en was ook een van die eerste sementpaaie in Suid-Afrika.
Die R62 is in 1978 gebou. Vandag is Calitzdorp bekend vir sy wynplase wat bekroonde wyne en port produseer.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'