OUDTSHOORN NUUS - Caleb Alexander (5) van Oudtshoorn het in sy kort lewe reeds 'n moeilike pad gestap, van operasies om 'n klompvoet reg te stel, asook die pad na herstel na hy brandwonde aan sy gesig as 'n kleuter opgedoen het.
Noudat hy skoolgaande ouderdom nader, staar sy familie 'n nuwe uitdaging in die gesig: om Caleb te help om sy gehoorverlies te oorkom.
Buiten sy uitdagings is Caleb se lewe gevul met kleur en verbeelding. Bekend vir sy parmantige glimlag en eindelose kreatiwiteit, spandeer hy sy dae om aanskoulike sketse te maak, verbeeldingryke Lego-skeppings te bou en om stories uit te beeld waar hy die brawe brandweerman is.
Agter sy laggies skuil 'n groot leemte, die vermoë om te hoor en met die wêreld om hom kontak te maak.
Die seun wat die wêreld in kleur sien
Selfs sonder veel woorde, skyn Caleb se lewendige persoonlikheid. "Hy is ons klein kunstenaar," vertel Nina-Rose Clarke, sy tannie en die stigter van 'n Back-a-Buddy-veldtog vir hom.
"Hy kleur ongelooflik mooi in, bou Lego vir ure en het maniere om vreugde uit te straal wat mens sprakeloos laat."
Sy familie het 'n vertraging in Caleb se spraak en sosiale ontwikkeling opgemerk. Weens 'n familiegeskiedenis van gehoorprobleme het hulle hom vir gehoortoetse geneem. Die uitslae het hul vrese bewaarheid. Caleb het van geboorte af met gehoorverlies gesukkel.
"Die bevestiging van ons vrese was moeilik," vertel Clarke, "maar ons as familie glo in aksie en nie om tou op te gooi nie".
Met beperkte oudiologie-dienste in Oudtshoorn het veral reiskoste 'n finansiële las begin raak. "Op so 'n jong ouderdom, waar taal blom, vriendskappe gevorm word en om te leer begin, is tyd van kardinale belang.
'n Familie gebind deur liefde en geloof
Caleb, die middelste kind van drie broers, word dikwels beskryf as die gom wat die familie aanmekaar hou.
"Hy is cheeky en vol grappies, hy trek altyd gesigte om net iemand te sien lag. Hy is merkwaardig onafhanklik en maak met 'n glimlag sy bed op en ruim op agter homself. Hy staan altyd gereed om met die jonger kinders in die familie te help. Sy gehoorverlies definieer nie wie hy is nie, maar sy vriendelikheid."
Die familie het vinnig aangepas by Caleb se behoeftes. "Hulle het nuwe maniere ontwikkel om te kommunikeer deur gebruik te maak van gebare, oogkontak, asook om instruksies geduldig te herhaal."
Clarke deel 'n verjaarsdag met Caleb en die twee het 'n spesiale band.
"Ek het die veldtog uit liefde en hoop gestig, hoop vir gehoorapparate, spraakterapie en die regte ondersteuning, en dat Caleb in graadeen die klas kan instap met selfvertroue en die toekoms wat hy verdien. Die gehoorapparate sal hom nie net help om te hoor nie, maar ook help om te leer, vriendskappe te smee en om verder te groei, hy is 'n ongelooflike mensie."
Om die wêreld te hoor, een geskenk op 'n tyd
Die familie se doel is om R30 000 in te samel vir kwaliteit gehoorapparate, asook deurlopende spraakterapie besoeke aan oudioloë buite Oudtshoorn. "In net 11 dae het meer as 36 skenkers reeds R17 000 geskenk, 'n bemoedigende boodskap dat ook klein aksies 'n groot verskil kan maak. Ons is ongelooflik dankbaar vir elke persoon wat donasies gemaak het."
Skandeer die kode om die Back-a-buddy veldtog te besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’