Update
OUDTSHOORN NUUS - Die man (29), wat van die moord op Shirley Witbooi (64) aangekla word, se saak is op 13 Januarie in die Oudtshoorn-landdroshof uitgestel vir 'n sielkundige evaluering.
Tydens die hofverrigtinge het landdros Stephanie Strydom aan die verdagte genoem dat sy sien dat hy beter lyk as die vorige keer wat hy voorgekom het, waarop hy geantwoord het dat hy beter voel.
Shirley is op 1 September, deur haar man, Karel Witbooi, dood in 'n plas bloed in hul huis in Smartie Town (Sipho Cromastraat) aangetref.
Volgens Karel, wat in 'n rolstoel is, was hy die betrokke dag nie by die huis nie en het hy die liggaam ongeveer 18:45 ontdek.
Hy het vertel dat hy met die intrapslag dadelik opgemerk het dat daar iets fout is, want die ligte van die huis was af en die voordeur nie gesluit nie. Karel sê dat 'n lid van die gesin, wat aan Shirley bekend was, die enigste persoon saam met Shirley ten tyde van die voorval was.
Die verdagte is dieselfde aand nog deur die polisie in hegtenis geneem.
Shirley word deur haar bure as 'n liefdevolle persoon, wat altyd vol grappies was en 'n geselsie wou aanknoop, beskryf.
Die verdagte bly in aanhouding. Die saak is tot 13 Februarie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'