OUDTSHOORN NUUS - Mediese personeel, wat hul dienste vrywillig beskikbaar stel, het Saterdag 2 Mei ongeveer 100 pasiënte in Klaarstroom gratis behandel. Die mediese diens is deel van Pediatric Care Africa se gereelde projekte om mediese dienste aan minderbevoorregtes in landelike gebiede te bied.
Die uitreik in Klaarstroom sou in April plaasgevind het, maar moes uitgestel word met die sluiting van Meiringspoort as gevolg van swaar reën.
Volgens dr. André Hattingh van De Rust, stigterslid van Pediatric Care Africa, het dr. Hanco Blignaut, tandarts van Oudtshoorn 35 pasiënte behandel en dr. Anso Killian, algemene praktisyn van De Rust, het 65 mediese gevalle behandel.
Die twee artse is deur vrywilligers bygestaan wat met die ondersoeke en registrasie van pasiënte gehelp het.
“Saterdag het 100 mense 100% gratis mediese dienste en medikasie ontvang. Elke kind het ook ’n kombers ontvang vir die koue wat in aantog is,” het Hattingh Maandag gesê. Elke pasiënt is ook met ’n worsrolletjie en koeldrank getrakteer.
Hattingh het verlede Vrydag teruggekeer nadat hy 500 km op ’n donkiekar afgelê het juis om fondse vir gratis mediese behandeling en medikasie vir mense in te samel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’