OUDTSHOORN NUUS - Annatjie Muller, 'n klinieksuster by Bridgton Primêre Gesondheidsorg, het onlangs 'n projek Boeke en Blokkies begin om 'n leeskultuur onder kleuters te bevorder.
Tydens die Klein Karoo Camino-staptog ten bate van Helpende Hand is daar op Donderdag 1 Mei Bybels en boeke vir Muller se projek oorhandig.
Die Bybels is deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika geskenk. Denise van Rensburg en Marika van Heerden het 120 van hul Katvoetverse-boeke geskenk.
Die oorhandiging het by die St. Jude's Anglikaanse Kerk plaasgevind. Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het die Bybels oorhandig en het sy dank namens die ontvangers aan die Bybelgenootskap betuig.
Katvoetverse se illustrasies is deur Marika van Heerden gedoen. Sy het die hoop uitgespreek dat die boekies 'n gretige gehoor in die plaaslike, oorwegend Afrikaanssprekende, gemeenskap sal vind.
Vir skenkings aan Boeke en Blokkies kontak gerus 071 209 1977. Veral leesmateriaal vir kleuters (kinders tot ses jaar) en speelgoed is welkom. Alle skenkings word deurlopend tussen leesgroepies roteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’