KLEIN KAROO NUUS - Daar is tans verskeie straatkomitees en WhatsApp-groepe wat help om misdaad te bekamp.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, werk hierdie inisiatiewe goed en help dit om mense in die omgewing op hoogte te hou van vreemde persone wat in die buurt is.
"Dié groepe help ook om inligting deur te gee. Oudtshoorn word in vier sektore verdeel en elke sektor het 'n bevelvoerder wat as skakelpersoon van die groepe dien."
Visser sê indien enige persoon 'n behoefte het vir so 'n inisiatief in hul sektor of dalk aan een wil behoort kan hulle die onderskeie bevelvoerders by die volgende nommers kontak:
Sektor 1 (Bongolethu en Toekomsrus) Kapt. Jenny Witbooi - 082 522 3207
Sektor 2 (Bridgton) Kapt. Johanna Nortje - 079 8939 969
Sektor 3 (Dorp, Oudtshoorn-Suid, -Noord en Wesbank) Kapt. Wynand du Plessis - 082 821 1027
Sektor 4 (Plase) Kapt. Johan Nel - 082 444 2370
Nielstraat het ook verlede week 'n WhatsApp-groep gestig om sodoende mekaar in te lig van enige verdagte- of kriminele aktiwiteite in hul straat. Die groep onderneem om nou met die polisie saam te werk nadat hulle die afgelope ruk onder 'n vlaag inbrake deurgeloop het. Inwoners van Nielstraat kan Pat Blaauw by 071 520 9231 kontak.
Ook in De Rust is buurtwagte van kardinale belang.
Volgens kapt. Gert Fourie, stasiebevelvoerder van die De Rust-polisie, probeer hulle hard om misdaad in die dorp hok te slaan.
Hy sê probleme soos boemelaars, dronkenskap, urineer in die publiek en bedelaars staar hulle elke dag in die gesig.
"Die polisie het soms nie genoeg mannekrag om op te tree nie en dit is hier waar vrywilligers en plaas- en buurtwagte van onskatbare waarde is.
Min mense besef egter hoeveel hierdie vrywilligers vir die polisie van De Rust beteken. Hul werk ook nou saam met die toerismeburo."
Volgens hom is die inisiatief hoofsaaklik deur die departement van gemeenskapsveiligheid geloods.
"Enige lid gaan deur prosesse waar daar gewaarborg word dat hy/sy geen kriminele rekord het nie. Ons wagte werk onder leiding van ao. Elsje Frey."
Frey het 'n trofee geskenk vir die lid wat jaarliks die meeste ure werk. Jan Bezuidenhout was die wenner in 2018 met 777 ure vir die jaar. Noelle Delport is die tweede opvolger vir 2019.
Inwoners van Nielstraat wat onderneem het om te help om misdaad in hul omgewing te bekamp. Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'