OUDTSHOORN NUUS - 'n Busbestuurder van 'n toerbus met 'n groep Duitse toeriste is Vrydagoggend op 'n klag van dronkbestuur in hegtenis geneem.
Die groep toeriste was geruime tyd by die lisensiekantore gestrand nadat daar ook bevind is dat die bus nie verder kan ry as gevolg van meganiese foute by die agterwiele nie.
Die Oudtshoorn Courant het 'n amptenaar van die provinsiale departement van toerisme wat buitelanders in nood bystaan, van die situasie in kennis gestel en sy het hulle by die lisensiekantore bygestaan totdat alternatiewe vervoerreëlings vir die groep getref kon word.
Hulle is met drie minibusse van 'n plaaslike vervoer-onderneming grotte toe geneem en is later die dag met die drie voertuie Port Elizabeth toe geneem.
Verkeersbeamptes het die bus voorgekeer omdat dit voorgekom het dat die bus meganiese probleme ondervind.
By die toetsstasie het die beamptes vermoed dat die bestuurder onder die invloed van alkohol was en 'n asemtoets is gedoen waarna die bestuurder in hegtenis geneem is.
Volgens 'n woordvoerder van die busmaatskappy was die bus padwaardig toe dit Kaapstad verlaat het en vermoed hulle dat skade aan lugsakke by die agterwiele veroorsaak is deur die bestuurder.
Hulle het 'n interne ondersoek gelas,
Die bus is deur verkeersbeamptes voorgekeer omdat dit duidelik na een kant oorgehang het. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'