DE RUST NUUS - 'n Klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek na 'n vrou verlede Vrydag deur 'n wegholbus ernstig beseer is.
Volgens kapt. Gert Fourie, bevelvoerder van De Rust-polisiestasie, het die bus in Riemvasmaak by die bus-bestuurder se huis gestaan toe dit agteruit geloop het en bo-oor die vrou, wat agter die bus verbygeloop het, gery het.
"Die bus het vyf opslaanhutte beskadig en in die laaste een tot stilstand gekom." Volgens hom is die bus na die toetsstasie geneem om te kyk waarom die bus agteruitgeloop het, maar is die vermoede dat die handrem moontlik foutief kan wees.
Niemand is in hegtenis geneem nie. Die bestuurder van die bus het die week aan Oudtshoorn Courant vertel dat hy oudergewoonte Vrydag die bus voor sy huis gewas het.
"Ek sit altyd klippe agter die bus net om honderd persent seker te maak dat die bus nie agteruit loop nie. Dit het ook nog nooit gebeur nie.
"Vrydag het ek in die bus geklim en hom aangeskakel en daar loop die bus. Daar was nie genoeg wind op die bus vir hom om te loop nie, so ek verstaan glad nie wat gebeur het nie. Dit is ook nie die handrem wat foutief is nie. Iets anders moes gebeur het."
Volgens hom is die vrou wat in die ongeluk beseer is sy buurvrou.
"Haar naam is Alexis April. Sy is 22. Sy het met haar rug na die bus toe geloop en het waarskynlik nie die bus gesien nie. Ek het haar ook nie gesien nie. Die bus het van agter oor haar gery. Sy het nogal seergekry omdat die bus oor haar kop gery het. Die ambulans het haar na 'n hospitaal in Oudtshoorn geneem en toe na George oorgeplaas, maar ek was persoonlik by haar saam met haar ma. Sy is okay."
Die koerant het met nog 'n persoon op die toneel gepraat en volgens hom was die mense wat in die opslaanhut was waarin die bus tot stilstand gekom het gelukkig om te oorleef.
Die inwoners van die woning kon gelukkig betyds uit die woning kom en is nie beseer nie, maar die opslaanhut is erg beskadig.
Vorige artikel: Vrou beseer na bus haar tref
Die skade aan die opslaanhut toe die bus in dit ingery het.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'