LADISMITH NUUS - Kannaland-burgemeester, Jeffrey Donson, verras jaarliks van die kindertjies in Kannaland tydens die Kersseisoen.
Hierdie jaar het hy, in samewerking met die kantoor van die speaker, Peter-George Rooi, sy verrassingsveldtog Van Wyksdorp, ongeveer 50 km buite Ladismith begin.
Kerspakkies is aan leerders van die Van Wyksdorp Primêr, asook die plaaslike kleuterskool uitgedeel. Die geskenkpakkies wat verskeie lekkernye ingesluit het, is deur Kersvader (Johan September) van die burgemeesterskantoor, uitgedeel.
"Hierdie pak en baard is baie warm, maar die blydskap op die gesiggies van die kindertjies gee jou die gevoel van tevredenheid. Dis asof jy die trots kon sien dat hulle vir Kersvader self ontmoet," het September gesê.
Schannon Philander, skoolhoof, was duidelik opgewonde oor die besoek van die belangrike gaste aan sy skool.
"Ek was ook 'n kind en net so opgewonde oor enige geskenk wat ek ontvang het. Ek verstaan die opgewondenheid van die leerders. Ons, die ouers en personeel van Van Wyksdorp wil ons opregte dank aan die burgemeester, Kersvader en die ander gaste uitspreek."
Donson het in 'n kort boodskap aan die kinders hulle op die werklike betekenis van Kersfees gewys en in eenvoudige taalgebruik aan hulle die belangrikheid van die kindjie Jesus se koms na die mensdom verduidelik. Hy het hulle 'n aangename feesgety toegewens en hulle gemaan oor die mees algemene gevare van die Kersgety soos om nie sonder toesig te swem nie. Hy het ook gepraat oor drank en geweld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’