OUDTSHOORN NUUS - Die burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Johan Allers, het Dinsdag met die voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Abri Ferreira, belanghebbendes, en inwoners wat langs die rivier woon, vergader om met hulle te gesels oor die skoonmaak van die rivier.
Met die onlangse reën en vloede het huise na-aan die rivier, veral dié in Raubenheimer-rylaan, groot skade gely. Die laagwaterbruggies het oorstroom en paaie en ander infrastruktuur is beskadig.
Volgens Allers is die grootste probleem die blokkasies binne die rivierloop.
"Goed soos bourommel wat onregmatig in die rivier gegooi is en nooit skoongemaak is nie, heinings wat oor die rivier gespan is en opdrifsels wat daarin vassit, veroorsaak blokkasies en die water moet 'n ander pad kry om te vloei wanneer die rivier sterk loop. Dit is wat die oorstromings veroorsaak."
Allers het verduidelik dat hulle in die proses is om goedkeuring te kry om die rivier skoon te maak.
"Die projek gaan van Noordstraat tot Rademeyerstraat loop, maar aan Rademeyerstraat se kant begin omdat dit tans die grootste kwelpunt is. Dit gaan ook nie net oor die skoonmaak van die rivier nie, dit is 'n projek waarby die hele gemeenskap gaan baat. Ons wil dit mooimaak, dit moet 'n plek wees waar mense kan stap. Met die verwydering van die riete en skoonmaak van die beboste gebiede gaan ons ook 'n veiliger omgewing skep. Daar sal ook gereelde patrollies deur wetstoepassing gedoen word om te verseker dat die area veilig en netjies gehou word."
Volgens Allers vorm die projek deel van 'n groter projek, 'Hoe kan ek help?'.
"Daar is baie rolspelers by die rivierprojek betrokke en inwoners wat by die rivier woon is gretig om in te spring en te help. Ander inwoners is ook welkom om te help indien hulle sou wou. Ons beleef die laaste tyd 'n geweldige positiewe gevoel in die dorp, en wil voortbou daarop. Oral in die dorp is verskeie inwoners en instansies besig om in te spring om 'n verskil te maak, en daarvoor sê ons dankie."
Allers het beklemtoon dat ander inwoners wat hierby betrokke wil raak, baie welkom is.