OUDTSHOORN NUUS - Dit gons tans op sosiale mediaplatforms met beweringe dat onderburgemeester Mlandeli Nyuka (Suid-Kaap Saamstaan), vandeesweek glo kriminele klagtes in die gesig staar.
Nyuka is 'n lid van die beherende DA-Alliansie in die Oudtshoorn-munisipaliteit raadsaal.
Die DA -Alliansie bestaan uit 13 setels teenoor die 12 van die ANC-alliansie.
Die Oudtshoorn Courant het twee weke gelede berig dat die einste Nyuka glo deur die ANC in Kannaland met R30 000 probeer omkoop is om sy rug op die beherende DA-alliansie te draai.
Luidens 'n persverklaring bevestig die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, dat die DA-Alliansie bewus is van die aanklagte teen die onderburgemeester Nyuka wat deur die polisie ondersoek word.
"Dit is kommerwekkend om die omvang van gerugte en bespiegelings wat op verskeie sosiale mediaplatforms geplaas is te lees teen die agtergrond van onlangse pogings om die onderburgemeester om te koop.
Die omstandighede rondom die aanklagte word deur die polisie ondersoek en daar moet vasgestel word of dit deel is van ’n proses om die raadslid te diskrediteer om hom uit sy pos te lig.
Wanneer klagte teen enige raadslid aanhangig gemaak word, begin 'n regsproses wat toegelaat moet word om sy gang te loop voordat die munisipaliteit reageer.
Die munisipaliteit gee sy volle en onvoorwaardelike samewerking en ondersteuning aan die regsproses.
Die gemeenskap word gevra om die proses sy gang te laat verloop en nie te spekuleer in reaksie op inligting van spesifieke individue nie.
Ten tyde van hierdie verklaring is geen mediaversoeke deur die kantoor van die uitvoerende burgemeester ontvang nie."
'n Navraag is aan polisie gestuur.
Herhaaldelike pogings deur die Oudtshoorn Courant om Nyuka te kontak vir kommentaar, was onsuksesvol.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'