OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-burgemeester Chris Macpherson het by monde van sy media- en kommunikasiebeampte, Hannes Visser, 'n aantal "kwelpunte" in Donderdag 6 Oktober se voorbladberig "Onderburgemeester Nyuka in tronk" onder Oudtshoorn Courant se aandag gebring.
In die belang van duidelikheid belig Oudtshoorn Courant graag die volgende:
1. Die hooffoto
Die foto van Oudtshoorn se onderburgemeester, raadslid Mlandeli Nyuka, is inderdaad 'n foto wat deur mnr. Wyndham Ewerts geneem is, maar die tralies en woorde "28 PAPA WAG VIR JOU" is in die uitlegproses bygevoeg. Die burgemeester is van mening dat die manipulasie van die foto onvanpas is gesien in die lig dat die regsproses nog in die aanvangstadium is en dat ‘n vorige onverwante saak van die hofrol verwyder is.
2. Inhoud van die berig
- Die berig lui dat die party [Suid-Kaap Saamstaan] die lidmaatskap van Raadslid Nyuka ontken. Dit is deel van ‘n verklaring wat deur Suid-Kaap Saamstaan uitgereik is. Daarvolgens dui hulle aan dat Nyuka sedert 6 April nie meer lid is van die party nie. Dit is nie bevestig nie en die burgemeester meen dit skep die persepsie dat ‘n persoon wat nie lid is van ‘n party nie, deur die raad toegelaat word om as raadslid te dien. Volgens die burgemeester word die raadslid se lidmaatskap van Suid-Kaap Saamstaan eers op 14 Oktober in die hof beslis en is hy tans steeds president van sy politieke party.
- Daar word in die berig verwys na ander klagtes: "(Daar is glo meer as een hangend)". Die burgemeester meen die joernalis verwys moontlik na ‘n onverwante klag wat reeds sedert 2021 op die hofrol is. Die klag is egter Dinsdag van die hofrol verwyder.
- Die burgemeester sê ook die volgende sin is nie verteenwoordigend van die huidige politieke situasie op die dorp nie: “In reaksie op die politieke onrus wat tans op die dorp heers, het burgemeester Chris Macpherson by navraag bevestig…”
Oudtshoorn Courant is verbind tot gebalanseerde en regverdige beriggewing.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'