Update
OUDTSHOORN NUUS - Verwarring oor die kant van die pad waaraan 'n buitelandse bestuurder moes ry het tot 'n botsing reg van voor gelei.
Die botsing het verlede Donderdagmiddag plaasgevind toe 'n Israeliese bestuurder en sy gesin by 'n gasteplaas op die grottepad uitgery het en aan die verkeerde kant van die pad in die rigting van die grotte gery het.
Twee mans van Oudtshoorn was in 'n bakkie in die rigting van Oudtshoorn onderweg toe die Toyota in 'n draai op hulle afpyl.
Volgens Lourens van der Westhuizen, die bestuurder van die bakkie, het hy gerem, maar die Toyota het hulle reg van voor getref. Hy en sy passasier het hoofbeserings opgedoen.
Die bestuurder van die Toyota het gesê hy verstaan nie hoekom hy aan die verkeerde kant van die pad gery het nie aangesien hy en sy gesin al meer as 2 000 km op hulle uitgebreide roete tussen Johannesburg en Kaapstad, afgelê het.
Sy vrou en een van hulle twee kinders is hospitaal toe geneem waar X-strale van hulle nekke geneem is.
Hulle is egter nie ernstig beseer nie en kon die volgende dag met 'n ander gehuurde motor, hulle reis voortsit.
Die botsingstoneel verlede Donderdag omstreeks 12:30. Foto's: Hannes Visser
Lees 'n vorige artikel: Buitelanders in botsing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'