OUDTSHOORN NUUS - Die perderuiters, Carla (22), Lara (18) en Nico-Meyer (20) le Roux het die uitmergelende Fauresmith-uithourit oor 201 km in Julie voltooi. Die rit het oor drie dae van 3 tot 5 Julie gestrek en is bekend as een van die uitdagendste ritte in die land.
Al drie die sibbe is oudleerders van Langenhoven Gimnasium waar Carla en Nico-Meyer gematrikuleer het. Lara was in Gimmies tot aan die einde van gr. 10 en is tans in Hoërskool Outeniqua. Al drie het as lede van die WP-span gery en dit was Carla se eerste deelname aan die Fauresmith-uithourit en sy het sewende in haar gewigsafdeling geëindig op die rug van Welbech Jamal.
Nico-Meyer het op Country Boy die eerste plek in die standaardgewig beklee en het in die algehele derde plek geëindig. Hy is steeds die rekordhouer in die junior en senior-afdeling nadat hy die rekords in 2015 gebreek het.
Hy het sy senior Springbok-kleure verwerf.
Carla le Roux in die saal van Welbech Jamal.
Lara, wat die sesde plek in haar gewigsafdeling behaal het, het reeds in 2015 haar junior springbok- en Protea-kleure verwerf. Sy en haar perd, Kanna Kadin, was in 2016 die algehele wenners.
Daar was 375 ruiters wat in snerpende koue meegeding het. Met die wegspring op die eerste dag het die temperatuur op -6,5°C gelê.
Die Le Roux-gesin boer in die Kammanassie naby Uniondale.
Lara en Kanna Kadin op een van die Fauresmit-skofte.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'