OUDTSHOORN NUUS - Die hoofafrigter van die Crusaders- en oudafrigter van Bridgton-rugbyklub, Stanley Kruger (55), word vandag om 10:00 vanuit die NG Kerk in Hartenbos ter ruste gelê.
Kruger is verlede Donderdagmiddag, 14 Augustus, oorlede nadat sy motorfiets op die hoek van Beachweg en Olympicrylaan in Pacaltsdorp met 'n ligte vragmotor gebots het.
Kollegas, wetstoepassers en verkeerspersoneel was binne minute op die toneel waar hulle op ambulansdienste gewag het. Kruger het op die sypaadjie gelê, maar kon ten spyte van sy beserings, nog praat.
Sy dogter, Shané, het vandeesweek gesê haar pa laat 'n groot leemte in hul lewens. Sy het vertel van sy liefde vir sy familie, rugby, die Crusaders-span en sy "rugbymense".
"Ek sou hom soms spot en sê hy moet minder op Sportbeat op Facebook praat," sê sy. "Sy begrafnis is oop vir almal wat voel hulle wil kom. My pa sou dit so wou hê."
Hennie Baartman, president van Bridgton-rugbyklub, sê hy het Kruger in 1999 as 'n goeie, joviale en gerespekteerde mens leer ken.
"Hy het later by die SWD-skeidsregters-vereniging aangesluit en was 'n skitterende skeidsregter. Hy het weer begin skoolhou en het ook betrokke geraak by SWD-LSEN (learners for special needs education). Daar het ek hom gesien as 'n ongelooflike rugbyafrigter. Hy was passievol en toegewyd. Later het hy Groot-Brakrivier afgerig en in 2023 het hy Bridgton begin afrig."
Baartman sê Kruger het elke dag, wanneer daar oefening of wedstryde was, sy tyd opgeoffer om van Klein-Brakrivier, waar hy gewoon het, na Oudtshoorn te ry.
"Dit het getuig van sy absolute toewyding. Ons het in die vorige seisoen agtste geëindig. Maar toe hy ons spelers begin afrig het, het ons met sy hulp daardie seisoen derde geëindig. Hy het weer die trots, passie en toewyding in Bridgton-rugby teruggebring. Hy het hard gewerk met die span en alles gegee vir die klub. Tot vandag toe het hy altyd met trots gepraat oor sy tyd by die klub. Vandag pluk ons die vrugte van alles wat hy ingesit het."
Baartman sê rugby het 'n ware dienaar van die sport verloor.
"My hart gaan uit na sy gesin. As Stanley by 'n klub betrokke geraak het, het sy hele gesin ook betrokke geraak. Baie sterkte vir julle as gesin."
Kruger het in Boshoff in die Vrystaat grootgeword, waar die meeste van sy familie steeds woon. Hy en sy gesin het in Reebok gebly.
Kruger, een van agt kinders, laat sy vrou, Engela, sy dogter Shané en seuns Benrico en Dandré agter.
Die Pacaltsdorp-polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag. Niemand anders is in die ongeluk beseer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’