OUDTSHOORN NUUS - Lede van Bridgton-rugbyklub het gisteraand, 14 Augustus, met groot skok die nuus ontvang van die afsterwe van Stanley Kruger, beter bekend as “Oubasie” onder spelers.
Kruger was 'n oudafrigter van Bridgton-rugbyklub en hoofafrigter van die Crusaders-rugbyklub. Hy was ’n onderwyser by Olympia Vaardigheidskool in Pacaltsdorp en was gistermiddag, ná skool, op sy motorfiets in ’n botsing met ’n ligte vragmotor betrokke. Die ongeluk het op die hoek van Olympicrylaan en Beachweg in Pacaltsdorp plaasgevind.
Vriende, familie en rugbyspelers het gisteraand ’n kranslegging op die toneel gehou ter nagedagtenis aan hom.
Volgens Hennie Baartman, president van Bridgton-rugbyklub, het hy Kruger in 1999 as ’n goeie, joviale en gerespekteerde mens leer ken.
“Hy het hom later by die SWD-skeidsregtersvereniging aangesluit en was ’n skitterende skeidsregter. Hy het later weer begin skoolhou en het ook betrokke geraak by SWD-LSEN (learners for special needs education). Daar het ek hom gesien as ’n ongelooflike rugbyafrigter. Hy was passievol en toegewyd. Later het hy Groot-Brakrivier afgerig en in 2023 het hy Bridgton begin afrig.”
Baartman sê Kruger het elke dag, wanneer daar oefening of wedstryde was, sy tyd opgeoffer om van Klein-Brakrivier, waar hy woonagtig was, na Oudtshoorn te ry.
“Dit het getuig van sy absolute toewyding. Ons het in die vorige seisoen agtste geëindig toe hy ons spelers begin afrig het, maar met sy hulp het die span daardie seisoen derde geëindig. Hy het weer die trots, passie en toewyding in Bridgton-rugby teruggebring. Hy het hard gewerk met die span en alles gegee vir die klub. Tot vandag toe het hy altyd met trots gepraat oor sy tyd by die klub. Vandag pluk ons die vrugte van alles wat hy ingesit het.”
Baartman sê rugby het ’n ware dienaar van die sport verloor.
“My hart gaan uit na sy gesin. As Stanley by ’n klub betrokke geraak het, het sy hele gesin ook betrokke geraak. Baie sterkte vir julle as gesin.”
Volgens Phillip McKenzie-Goliath, die klubvoorsitter van Bridgton-rugbyklub in die tyd wat Kruger die span afgerig het, was hy “’n mens-se-mens en ’n man wat almal altyd met liefde en respek behandel het.”
“Die spelers het onmiddellik aanklank gevind by die voormalige valskermsoldaat se manier van krag- en vaartoefeninge, en sy kwinkslae en unieke manier van kommunikasie met die spelers het hom vinnig ’n liefling onder spelers gemaak.”
Hy onthou ook met dankbaarheid die oefenkamp wat op Klein-Brakrivier gehou is.
“Hy en sy gesin het die A-span gehuisves. By die oefenkamp het hy hulle die sandduine laat uithardloop en daarna met lekker steaks bederf. Coach Stanley sal vir ewig voortleef in die harte van Bridgton-spelers en -ondersteuners. Long live the undying spirit of Coach Stanley!”
Vorige berig:
Crusaders-afrigter sterf in botsing
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’