Update
LADISMITH NUUS - Die minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, is tans met 'n ondersoek oor wettigheid van die skorsing van die drie Icosa-raadslede, Jeffrey Donson (partyleier), Hyrin Ruiters en Werner Meshoa besig.
Die drie is op Vrydag 29 Julie tydens 'n raadsvergadering in die stadsaal deur die raad geskors.
Volgens Wouter Kriel, Bredell se woordvoerder, geniet die saak tans die aandag van hulle regsafdeling by die departement van plaaslike regering.
"Minister Bredell sal 'n besluit moet neem of die skorsings wettig en binne die raamwerk van die munisipale raadslid-gedragskode geskied het. Hierdie is 'n ernstige saak en kan ingrypende gevolge inhou vir die betrokke raadslede."
Volgens Kriel hanteer die minister en sy departement die situasie versigtig en met die nodige aandag wat dit verdien.
Speaker Rodge Albertus het op hierdie vergadering beslis dat die drie raadslede die gedragskode vir raadslede oortree het deur hul skuldig te maak aan die "onwettige, vrugtelose en verkwistende besteding van openbare fondse."
Donson het hierdie skorsing van hulle reeds as 'n boendoehof-verhoor afgemaak en as onwettig bestempel.
Volgens Meshoa is daar nog geen sprake van tussenverkiesings nie omdat daar nog ondersoeke aan die gang is.
Nicky Valenty, burgemeester van die Kannaland-munisipaliteit, het gesê Kannaland behoort binnekort te weet wat Bredell besluit het.
"Die aanklagtes teen Donson, Meshoa en Ruiters behels onder meer bedrog met reis-en-verblyf eise. Ek verwelkom die verwydering van Donson, Mehoa en Ruiters as raadslede. Hulle is 'n verleentheid vir die raad."
Volgens Valentyn is Donson vir baie jare lank aan die voorpunt van wanadministrasie, korrupsie en politieke onstabiliteit by Kannaland-munisipaliteit. "Ons hoop die proses eindig met Donson wat in die asblik van geskiedenis beland, waar hy hoort."
Volgens Kannaland-gemeenskapleier Anthony Ewerts, gaan Donson se verwydering uit die raad "Kannaland verlos uit die put van die hel."
"Donson het die munisipaliteit baie skade berokken en sy verwydering as raadslid is in die belang van die hele gemeenskap. Hy het lank genoeg kwytskelding vir sy korrupsie en bedrog ontvang. Sy verwydering sal 'n stap in die regte riging vir Kannaland wees," het Ewerts bygevoeg.
Vorige artikel: Drie van Kannaland geskors
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'